Die Vrolike Vrouedag is bygewoon deur, van links, Hennie Basson (sanger), Maria Bird, Gloria Gilbert, Susan Strydom, Elain Arends, Estelle Muller (hulpkok) en Edo Watalu (hoofkok). Voor is Barbara Duminiet, vrywillige werker.

Credit: SYSTEM

Die Tygerberg Meals on Wheels in Parow word hoofsaaklik deur vroue bedryf en vir Moedersdag op Sondag 7 Mei is die dag tot Vrolike Vrouedag herdoop.

“Elke vrou moes ’n ‘fênsie’ hoed dra; dis hoekom ons dit hernoem het na Vrolike Vrouedag,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder by die sentrum.

Die Sondagoggend het begin met Ronnie Watt wat die godsdiens behartig en sy “verskillende hoede” opgesit het. Dit was ook sy tema en hy het aan die vroue gesê dit maak nie saak watter “hoed” jy opsit nie, jy bly dieselfde mens van binne.

Vrywillige werkers uit die gemeenskappe wat deur Meals on Wheels bedien word, het ook die oggend bygewoon en die bestuur bedank vir hul onbaatsugtige werk en ’n boodskap van bemoediging gebring.

“Ons deel nie net kos uit nie, maar daar is baie ander aktiwiteite wat ons aanbied vir die senior burgers om hulle besig te hou. Dinsdagoggende kan hulle ’n paar liggaamsoefeninge kom doen om hul spiere soepel te hou en die Dinsdag ná Moedersdag het ons op die bene en arms gekonsentreer. Feitlik elke senior wat die oggend daar was, het opgestaan en saam geoefen.

“Die asems het gehyg en liggame het bietjie moeg geraak, maar daarvoor het ons ook ’n oplossing gehad toe ’n lekker koppie koffie of tee en die heerlikste toebroodjies voorgesit is,” sê Watt.

“Basson is geen onbekende by die dienssentrum nie en het vir die seniors kom sing. Daar is ook gedans en slangetjie geloop op die maat van die musiek tussen die tafels deur.

“Ons wou seker maak dat die seniors moeg en honger was voordat ons die driegang-maaltyd voorgesit het. Op die spyskaart was heerlike ertjiesop, gemaak deur Estelle Muller (hulpkok) as voorgereg, waarna ’n middagete van geelrys, saggekookte boudvleis, gemmerpatats, gebraaide aartappel en ’n mengelslaai voorgesit is. Vir nagereg het ons hulle bederf met ’n sjokoladepoeding met sjokoladesous en vla.

“Aan die einde van die dag, net voor die seniors huis toe is, het elkeen ’n geskenkie ontvang van Lindt, ’n waslap of afdroogdoek, ’n sepie en jogurt. Melanie Adonis, ’n vrywillige werker, het ons saal versier en sy is nou ook ’n personeellid by die dienssentrum,” sê Watt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article