Een winkelsentrum, vier veiligheidsvoertuie, 40 tieners en 24 uur propvol uitdagings – dit was Radio Tygerberg 104FM se Vreesloos 2025-eindronde.
Die afgelope naweek het vier skole uit die noordelike voorstede van Kaapstad mekaar die stryd aangesê vir die gesogte titel van Vreesloos 2025-wenner. Hierdie kombinasie van die speletjies Fear Factor, Survivor en Mr Beast het die afgelope jaar leerders van oor die Skiereiland heen se verbeelding aangegryp.
“Vreesloos het ontstaan as ‘n manier om tieners se uithouvermoë te toets en hul gemaksone agter te laat.
“Deur dit te doen en hulle te laat pret hê, was dit maklik om hulle met die boodskap te bereik dat ‘n mens tog vreesloos deur die lewe kan gaan, as jy weet waar jou hulp vandaan kom,” sê Rikus van Rooy, Radio Tygerberg se stasiebestuurder.
Radio Tygerberg het die afgelope jaar 11 hoërskole besoek, van die Hoërskole Jan van Riebeeck en Monumentpark, tot Strand en Parel-Vallei. By dié geleenthede het leerders aan uitdagings deelgeneem, van eier-roulette tot mopaniewurms eet. Daar is geril en gegril. Die onderwysers en skoolhoofde is nie oorgeslaan nie, tot groot vermaak van die leerders. So moes van die skoolhoofde ‘n minuut lank met ‘n 3,75m lange luislang om die skouers staan of ‘n veldlikkewaan vashou. Die Radio Tygerberg-omroeper en -jeugpastoor, Gerald Petersen, het op ‘n gepaste wyse leerders gemotiveer om ten spyte van hul uitdagings en omstandighede vreesloos te lewe.
Die afgelope naweek het vier finalisskole – die Hoërskole Brackenfell, Stellenberg, Durbanville en DF Malan – deelgeneem.
Vrydag om 14:00 het nege lede van elke span in Tygervallei-winkelsentrum se kosgang in ‘n Phangela- veiligheidsvoertuig geklim, terwyl hul ander spanmaat begin het om ‘n 1 500-stuk legkaart te bou. Hulle moes vir die volle 24 uur wakker bly. Elke uur was daar uitdagings en is die legkaartbouer geruil met ‘n spanlid in die voertuig. Die uitdagings het gewissel van vreemde kosse wat geproe en geïdentifiseer moes word tot uitrustings wat vanuit die plaaslike gemeenskapskoerant, TygerBurger, gemaak moes word. Daar was ook ‘n aflos deur die sentrum ná middernag, skottels vol koue water en ys waaruit albasters met tone gehaal moes word, kakkerlakke wat van een bak na ‘n ander bak (sonder hande) gedra moes word. Ná die kakkerlak-kaskenades het die deelnemers nie eens omgegee oor die “smoothies” met kondensmelk, vis en peri-peri sous wat blitsig afgesluk moes word nie.
Gelukkig was alles darem nie sleg nie en as ‘n verrassing het die bekende Grammy-genomineerde sanger en Radio Tygerberg omroeper, Neville D, sy nuwe liedjie getiteld “Vreesloos in God”, wat hy spesiaal vir hierdie veldtog geskryf het, kom sing.
Ná 23½ uur het die telbord gewys dat twee spanne kop-aan-kop was – die Hoërskole Durbanville en DF Malan. Die laaste intense balans-uitdaging sou dus bepaal wie met die beker en die eer as Vreesloos-wenner huis toe gaan. Die skare het gegil, die beoordelaars het asem opgehou en op die ou einde was dit die bloubloed-manne van die Hoërskool DF Malan wat as wenners uit die stryd getree het.
DF Malan het ook die sosialemedia-afdeling en skool met die beste gees gewen. Die Hoërskool Durbanville was die wenner van die TygerBurger-ontwerpkompetisie en die legkaartbou-afdeling.
“Dit bly ná 33 jaar steeds Radio Tygerberg se missie om ‘n impak op ons gemeenskap te maak en mense te inspireer. Vreesloos bied vir ons ‘n wonderlike platform om die jeug te bereik. En as ek kyk na hoe hierdie vier skole die naweek, mekaar en die uitdagings hanteer het, het ek sommer baie hoop vir die toekoms,” het Van Rooy afgesluit.









