’n Groot projek verg groot werk, het die Bellville Oom Vossie-Voortrekkers die afgelope paar jaar bewys.
Die Bellville Oom Vossie-kommando se spankamers het vanjaar 30 jaar oud geword en hulle kon dit vier met hul splinternuwe dak en heining.
Die ou dak was van asbes en het gelek. Dit het ook haas onmoontlik geraak om misdaad sonder ’n heining te bekamp.
Dit is ’n reusetaak om geld vir hierdie broodnodige projek in te samel, wat reeds in Augustus 2022 voltooi is.
Die kommando het ’n lening aangegaan en betaal dit nou stuk-stuk terug met geld wat hulle deur fondsinsamelings bekom. Twee hiervan het die naweek in die vorm van ’n vlooimark en flinkdink-aand plaasgevind.
Salome Thonnard, woordvoerder van die organisasie, sê die nuwe dak en heining maak ’n groot verskil. “Die dak lek nie meer nie, wat beteken dat die klassies nou binne mooigemaak kan word, omdat dit nie meer inlek nie en die kinders hoef nie almal die saal te deel wanneer dit reën nie,” sê sy.
Die heining beteken hulle kan naweekkampe op die perseel hou. Voorheen moes mense snags wag staan om die motors op te pas.
“Ons het ook nog nie weer inbrake gehad vandat ons die heining geïnstalleer het nie.”
Die groep beplan om ’n groot skeepshouer op die perseel te plaas, wat hulle as stoorplek sal gebruik sodat hulle die huidige spankamers, wat as stoorruimte gebruik word, beter kan benut.
Dié kommando bestaan tans uit 156 jeug- en volwasse lede. Hulle is die grootste in die Wes-Kaap en bestaan al 46 jaar.
By die Voortrekkers hoop hulle om die jeug toe te rus “om as moderne Afrikaners positiewe burgers en konsekwente Christene diensbaar te wees vir ander,” sê Thonnard.
“Buiten vir weeklikse samesyn in die spankamers, word daar ook gereeld onder meer uitstappies, kampe, staptoere, vlotvaarte en nagmarse gereël.
“Kinders word blootgestel aan waardevolle lewenslesse en toegerus met hand- en sosiale vaardighede waaraan hulle nie noodwendig blootgestel sou word nie,” sê sy.
Hulle verwelkom enige nuwe lede. “Om jou kind aan die Voortrekkers te laat deelneem, is een van die beste beleggings wat jy as ’n ouer in jou kind (en jouself) kan maak,” sê Thonnard.
“Voortrekkerkinders is net anders – hulle is volwasse, het respek vir ander en maak ’n plan. Hulle het selfvertroue en hulle het langblywende vriendskappe. Ervarings is die goed wat jou kind eendag gaan onthou as ’n volwassene – nie duur geskenke nie.”
Kontak die Oom Vossie-Voortrekkers by 083 541 3680 of ovvoortrekkers@gmail.com met navrae.