‘n Durbanville-plaaskind en oud-Durbie is skaars bekroon vir sy eerste dokumentêre film, of hy is reeds met sy volgende projek besig.
Die akteur en filmmaker Jerome Stationway (33) en sy kollega, Marguerite Venter, se dokumentêre film By die Soutwater (At the Salty Water) is verlede jaar vir die kykNET Silwerskermfees gekies.
Dié kortfilm is daarna genomineer vir ‘n International Tourism Film Festival Africa (ITFFA)-toekenning en is by die prysuitdeling in Junie met ‘n silwertoekenning bekroon in die kategorie vir dierelewe en bewaring (subkategorie seelewe). Dié dokumentêre film is tans op Showmax beskikbaar.
Twee Oseane-akwarium
Jerome en Marguerite werk saam by die Twee Oseane-akwarium in die V & A Waterfront in Kaapstad, waar Jerome ‘n kinematograaf en produksie-assistent is, en Marguerite die produksiehoof.
Jerome het op die plaas Hooggelegen buite Durbanville grootgeword en in 2009 aan die Hoërskool Durbanville gematrikuleer. Hy het ná skool ‘n oorbruggingsjaar gevat en as kelner by ‘n klein koffiewinkel gewerk, waar hy vir Elna Rabe ontmoet het.
“Sy het my voorgestel aan haar dogter, Yolande Rabe, die eienaar van The Stage Performing Arts Studio in Durbanville. Yolande het my blootgestel aan toneelspel. Ek het begin as ‘n buitemuurse dramastudent en het later besluit om voltyds drama te studeer. Drie jaar later is ek ‘n opgeleide akteur. Ek het onder meer baie kinderteater vir skole gedoen, gewerk saam met Martie Preller aan die Loebi die Drankie-reeks, en ook klasgegee,” vertel hy.
Hy het stemopleiding begin doen by die Twee Oseane-akwarium vir hul poppeteaterprogram en is toe later voltyds aangestel. Hy werk al vyf jaar daar.
Tweede film
Hy en Marguerite het vroeër vandeesmaand hul tweede dokumentêre film Wild Waterfront bekendgestel. Die première was op 5 Augustus by die Labia-teater in Kaapstad en die film was daarna oop vir die publiek van 8 tot 10 Augustus.
Dié vollengte dokumentêre film is ‘n projek van die Twee Oseane-akwarium se stigting in samewerking met die Stad Kaapstad en die Cape Town Film Fund om bewustheid vir die bewaring van stedelike dierelewe te skep. “Dis belangrik dat die wêreld sien watter impak ons op die dierelewe het en wat ons kan doen om in harmonie saam te kan leef – van robbe en sonvisse tot voëls. Ons elkeen verdien ‘n plekkie onder die son, selfs diere ook!”
Verdere studies
“Ons het reeds ‘n konsep vir ons volgende film, maar ons kan nog nie te veel daaroor sê nie. Almal sal maar moet wag en sien!”
Tussen sy werk as filmmaker deur is hy ook besig om verder te studeer in onderwys in die intermediêre fase.
“Ek neem steeds deel aan oudisies vir advertensies en toneelspel. Dis belangrik vir my om aktief in verskeie dele van die bedryf te bly,” sê hy.
. Besoek https://www.aquarium.co.za/news/wild-waterfront-documentary vir meer oor die film Wild Waterfront.
. Besoek https://www.instagram.com/reel/C-7bQTYKvWs/ vir meer oor By die Soutwater (At the Salty Water) en die toekenningsaand.




