Northlink College het aangekondig sy voormalige uitvoerende hoof en hoof van die instelling, Leon Brian Beech (70), is op 12 Augustus oorlede.
Die kollege het ‘n kennisgewing oor sy heengaan die dag daarna op sy sosialemedia-blad gedeel met die woorde: “Vir ewig onthou vir sy leierskap, visie en bydrae tot onderwys.”
Die raad, uitvoerende komitee en personeel het hulde aan hom gebring.
“Sy visionêre leierskap, onwrikbare toegewydheid tot onderwys, en diepgaande impak op ons instelling sal vir ewig gekoester word. Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende, en almal wat deur sy merkwaardige lewe aangeraak is,” lui hul inskrywing.
Boland Kollege het ook hulde gebring. “Sy toegewydheid het talle geïnspireer, en sy nalatenskap sal voortgaan om die lewe van ontelbare studente en opvoeders te vorm.”
Die Weskus-kollege het ook hulde aan hom gebring.
“Mnr. Beech was ‘n ware baanbreker en ‘n passievolle vegter vir TVET-kolleges tydens sy ampstermyn aan die stuur van Northlink College. Sy visionêre leierskap en toewyding tot die bevordering van die TVET-sektor laat ‘n blywende indruk wat sal aanhou inspireer vir jare wat nog kom,” skryf die kollege op sy sosialemedia-blad.
Beech word Saterdag 23 Augustus uit die Nuwe Apostoliese kerk De Kuilen-gemeente in Kerkstraat, Kuilsrivier, begrawe. ‘n Gedenkdiens was ook Dinsdag 19 Augustus in die Protea-kampus se saal in Voortrekkerweg, Bellville, vir hom gehou.
Northlink College het kampusse in Parow, Tygerberg, Belhar, Bellville, Goodwood, Protea en Wingfield.


