Elize Jooste, een van die breiers, is dankbaar vir die roos wat Lize Theron oorhandig het. Elk van die 28 vroue wat gebrei het, het ’n roos en sjokolade gekry.


Die eetsaal by Othello- aftreeoord in Brackenfell was in pienk getooi by ’n jolige partytjie wat Donderdag 31 Oktober gehou is ter ondersteuning van borskankerbewustheidsmaand.

By die geleentheid is 300 wol- bors-prosteses en 130 bra’s oorhandig aan onderskeidelik Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap en die nie-winsgewende organisasie, I Love Boobies, om vroue wat ’n mastektomie ondergaan het, by te staan.

Die bra’s is tydens die oord se borskankermaand ingesamel en die proteses deur die breiklub gebrei, gestop en aanmekaar gewerk.

Marlize de Jongh, die projekkoördineer, het gesê die protese-pakkette is met behulp van skenkings by die Kankervereniging van Suid-Afrika verkry.

Die breinaalde het op Mandeladag op 18 Julie met ’n brei-maraton begin klap om binne twee en ’n half maande die 300 borsprosteses te voltooi.

Die toegewyde groepie senior vroue, amper almal iets in die 80 jaar oud, het elke Dinsdagmiddag bymekaar gekom, koffie gedrink en gebrei.

Met die oorhandiging van die wolprosteses is (van links) Marlize de Jongh, Karin Barnard, Lize Theron en Helette Wessels.

De Jongh sê dit was vir hulle ’n groot voorreg om te kan bydra tot so ’n belangrike saak.

“Ons hoop dat ons medemense inspireer om meer bewus te wees van borskanker en die belangrikheid van vroeë diagnose. Deur saam te werk, kan ons ’n groot verskil maak,” sê sy.

Die projek is twee jaar gelede deur Hellette Wessels, die maatskaplike werker by die oord, van stapel gestuur om die oord se inwoners by betekenisvolle projekte te betrek.

Elana van der Watt, radioloog van SCP Radiology, het die bra’s namens I Love Boobies ontvang, met wie hulle in samewerking die bra’s in arm plaasgemeenskappe sal versprei.

Sy sê dit is wonderlik om te sien hoe ons ouer geslag op hierdie manier saamwerk, en nie ’n verskil net in hul eie lewens gemaak het nie, maar ook in die lewens van ander vroue in die gemeenskap.

“Vir die seisoenale plaaswerker wat net vir ’n halwe jaar ’n inkomste het, en vir wie nuwe onderklere nie vanselfsprekend is nie, maak net die een bra ’n groot verskil. Dit bring waardigheid,” sê Van der Watt.

Nasionaal versprei

Lize Theron van Solidariteit Wes-Kaap het die vroue bedank vir hul waardevolle bydrae, en vir elk ’n pienk roos gegee.

“Dis vir ons kosbaar om te weet dat soveel vroue saamgewerk het om die proteses te maak. Dit sal op ’n nasionale vlak versprei word na 150 vroue wat die trauma van ’n mastektomie moes ondergaan.

“Die bolletjie wol maak ’n enorme verskil in hul lewens; om weer vrou te voel.”

In haar toespraak het die skrywer en motiveringspreker Ronelle Foster haar eie vier jaar lange reis met kanker gedeel uit haar boek Kanker het my lewe gered.

Bloedkanker is op die ouderdom van 45 jaar tydens die Covid-pandemie by haar diagnoseer. Sy moes dadelik bloedoortappings ontvang en met chemoterapie begin. Haar suster in Australië was ’n 100% versoenbare beenmurgskenker – ’n een uit 100 000 kans op ’n perfekte pasmaat.

Elize Jooste, een van die breiers, is dankbaar vir die roos wat Lize Theron oorhandig het. Elk van die 28 vroue wat gebrei het, het ’n roos en sjokolade gekry.

Met die reisbeperking in grendeltyd moes die beenmurg-onttrekking in Australië gedoen word en in ’n baie beperkte tyd na Kaapstad toe vervoer word – van Sydney via Durban en Johannesburg tot in Kaapstad.

Foster sê die beenmurgoorplanting was haar “Mount Everest”.

“My lyf het deur hel gegaan, maar ek moes my kop daaruit hou. Dit het vier maande geneem ná die operasie vir my om weer op my eie te stap. Ek kon my oë in die oggende oopmaak en net in die oomblik leef met die wete dat ek kanker oorleef het. Van die 18 ander mense wat saam met my die pad gestap het, is net ek oor om die storie te vertel.”

Foster is sedert September vanjaar in remissie, maar moet nog elke vier maande vir ’n biopsie gaan.

Sy het haar gehoor met dié woorde gelaat: “Whatever breaks us open, is not as important as what it opens.”

You need to be Logged In to leave a comment.