Vlamme wat naburige huise in Brackenfell bedreig geblus

’n Veldbrand wat verlede Woensdag op ’n stuk onbeboude grond in die Stad Kaapstad se besit uitgebreek het, het naburige huise bedreig met vlamme wat tot teen die heining van een van die huise gelek het.

Die veldbrand op die Stadsgrond in Jakarandastraat is omstreeks 14:55 geblus.

Credit: SYSTEM

’n Veldbrand wat verlede Woensdag op ’n stuk onbeboude grond in die Stad Kaapstad se besit uitgebreek het, het naburige huise bedreig met vlamme wat tot teen die heining van een van die huise gelek het.

Dít, volgens ’n inwoner, Tania Naudé, weens die lang gras en vullis op die stuk grond wat weinig skoongemaak word.

Naudé sê die stuk grond in Jakarandastraat in Brackenfell-Suid hou jaarliks ’n brandgevaar vir inwoners in.

“Elke Desember brand dit hier, en met die sterk wind wat die vuur gedryf het deur die droë grasse, wat amper heuphoogte staan, het die vlamme baie vinnig versprei en was dit binne minute teen ons heining.”

Die veldbrand op die Stadsgrond in Jakarandastraat is omstreeks 14:55 geblus.

Was dit nie vir plaaslike sekerheidsfirmas nie, sou haar huis afgebrand het, sê Naudé. “My seuntjie het so net ná een se kant gesê hy ruik rook en toe ek uitgaan om te kyk, was daar net massiewe wolke rook. Toe ek die vuur sien, het ek dadelike paniekerig geraak. Die vlamme het sekonde ná sekonde nader gekruip. Ons was só bang.”

Naudé het dadelik ’n noodboodskap op die plaaslike groep gestuur.

Die sekerheidsmaatskappye Titanium en CMAX het dadelik gereageer en gaan help om die vuur te blus, terwyl op die brandweer gewag is. “Hulle het emmers water aangedra en met my tuinslang die vlamme teen my heining gekeer en van die huis af weggehou.”

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer, is die brand net ná 13:30 aangemeld as gras en vullis wat brand. Brandweerpersoneel van Brackenfell is uitgestuur en die brand is omstreeks 14:55 geblus. Carelse sê die oorsaak van die brand is onbekend.

Naudé sê dit is ’n voldonge feit dat die stuk grond elke somer ’n brandgevaar inhou. Die droë gras wat tot teenaan die huise se heinings groei, is amper heuphoogte.

Naudé sê net die gras op die voetpaadjie langs die stuk grond is vroeër die dag gesny, maar nie die gras self nie.

“Verlede jaar het ’n hele boom afgebrand en op ’n ander inwoner se muur geval en sy huis se geute in die proses gesmelt.”

Naudé sê sy vermoed dat die vullis tussen die lang grasse deur dromkrappers daar weggesteek of gestort word.

“Die feit bly staan, die stuk grond sal elke jaar ’n brandgevaar bly solank dit nie gereeld skoongemaak word nie. Die volgende dag het ’n kleiner vuurtjie weer opgevlam, wat my tuinwerker sommer gaan blus het. Maar ek bly bekommerd. Ek is nie seker of iemand dalk die brand opsetlik gestig het nie. Dit bly vir my ’n vreesaanjaende moontlikheid.”

Marian Nieuwoudt, wyksraadslid, sê die Stad is bewus van die probleem.

“Dit word gereeld deur haweloses gebruik, wat die risiko van brand verhoog. Die eiendomme departement is bewus van die subraad se versoek om die stuk grond te verhuur of vervreem. Die onbenutte grond is om verskeie redes ’n veiligheidsrisiko,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.