’n Vlaag van klipgooiery en inbrake by besighede in De Villiers-rylaan – in die omgewing van die skaatsbaan – teister inwoners die afgelope sowat drie weke.
Sommige inwoners vermoed dat dit die handewerk van straatmense is; ander meen dis jongmense uit Morningstar.
Verlede Donderdag om 02:26 het drie jongmense, vermoedelik in hul vroeë twintigs, die glasvoorruit van die bakkery Heavenly Decadence met ’n halwe baksteen stukkend gegooi.
LEES | Die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier
’n Motor wat onlangs in dié straat gery het, is ook met ’n klip bestook.
Voetgangers word ook gereeld beroof. Enkele dae voor die baksteenvoorval is ’n vrou van haar handsak in die straat beroof.
Talle ander soortgelyke voorvalle is glo reeds aangemeld. Voorvalle van klipgooiery in Langebergweg – aan die ander kant van Morningstar – kom ook gereeld voor.
Lekkergoed gesteel
Volgens Rosalind Odendaal van Heavenly Decadence is alles op die sekuriteitskameras vasgevang.
Die inbrekers het hul hande deur die gat in die ruit, wat met ’n plastiekfilm bedek is, gesteek en skyfies en ander lekkergoed gesteel. Die ruit is dieselfde dag nog vervang.
Net ’n week tevore is daar ook vroegoggend toegang tot haar voertuig verkry deurdat die sein van haar motor se afstandbeheerder blokkeer is. Sy het omstreeks 05:25 daar aangekom en was binne-in die bakkery besig was om reg te maak vir die dag. Verskeie items is uit die motor gesteel.
Volgens haar is die skurke in die baksteenvoorval vermoedelik jongmense, meer in hul twintigs – twee mans, van wie een lyk soos ’n Rastafarian, en ’n vrou.
sê Odendaal.
Op die sekerheidskameras kan gesien word hoe hulle in die rigting van die ingang na Morningstar vanuit De Villiers-rylaan hardloop.
Ses inbrake
“Motors op die pad word gereeld met klippe bestook. ’n Mens kan naweke sien hoe vol klippe die pad lê,” sê sy.
Daar was verlede jaar ses inbrake by haar besigheid. In twee voorvalle is die voorruit ook stukkend gegooi – in een voorval het die klip nog binne in die winkel gelê. Dis juis waarom sy die ruite met film laat bedek het, sê sy.
Volgens haar is die Durbanville-polisie traag om die sake op te volg.
sê sy. Volgens Odendaal bly hulle net om die draai en is haar man se bakkie ook al reg voor hul huis gesteel.
’n Motoris, Peter Skuce, se voertuig is voorverlede Donderdag net na 20:30 met ’n klip gegooi. Die voorval het net verby die sokkerveld, naby die ingang na die skaatsbaan, in De Villiers-rylaan gebeur.
“Ek het my dogter by die sokkerklub gaan aflaai; gelukkig was sy nie in die kar nie. Ek het gesien hoe die man buk, ’n klip optel en na my motor slinger. Deur die genade was ek gelukkig dat dit nie ’n gedeelte van ’n sekonde vroeër gebeur het nie; ek kon ernstig beseer gewees het,” sê hy.
“Dit was nie ’n kind nie, maar ’n jongman – of met hoodie of met rastahare. So vier, vyf van hulle het daar rondgestaan,” sê hy. Hy het die voorval by die Durbanville-polisie aangemeld.
Beroof as hulle stilhou
Volgens lt.kol. Theo Fisher van die Durbanville-polisie is daar sedert laat Augustus en nou reeds ses voorvalle van klipgooiery in De Villiers-rylaan aangemeld.
“Die klaers kom reguit polisiestasie toe om die voorvalle aan te meld. Vroeër met ’n soortgelyke vlaag het slagoffers dikwels stilgehou en is dan beroof,” sê hy.
Hy het motoriste aangeraai om nie te stop as klippe na hulle voertuie gegooi word nie.
Volgens Fisher het die Durbanville-polisie nou bykomende patrollies in die spitstye van klipgooiery – meestal vroegoggend en in die aand – in die omgewing in plek gestel na die mees onlangse voorvalle en is geen nuwe voorvalle sedertdien aangemeld nie.
“Die klipgooiers kom van Morningstar se kant. Die speurders is besig om die laaste voorvalle te ondersoek met die inligting wat daaruit gespruit het,” sê hy.
Louie Strydom, voorsitter van die Durbanville-gemeenskapspolisieforum (GPF), sê voorvalle van klipgooiery in Langebergweg het ook Maandag onder hul aandag gekom. “Dit gebeur dus beide kante van Morningstar.
Hy sê ’n vergadering word op Woensdag 9 Oktober in Morningstar gehou om die insidente te bespreek en oplossings te vind.
Theresa Uys, raadslid vir Wyk 112, het mense wat slagoffers van voorvalle in De Villiers-rylaan is, aangeraai om alle sake by die polisie en Durbanville GPF aan te meld om die statistieke by te hou.


