ViSNet hou weer slypskool

ViSNet, die nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om opkomende digters en skrywers met kennis toe te rus, hou eersdaags weer ’n slypskool.


ViSNet, die nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om opkomende digters en skrywers met kennis toe te rus, hou eersdaags weer ’n slypskool.

Die bekende skrywer Willem Fransman Junior gaan die slypskool aanbied. Volgens Fransman het die organisasie sowat ’n jaar gelede ontstaan toe Christa Kleynhans ’n behoefte aan bekostigbare skrywersopleiding geïdentifiseer het.

“Sy het gesien dat daar nie gereeld slypskole op die Kaapse Vlakte gereël word nie. Verlede jaar het hulle twee poësie-werksessies gehou en na aanleiding van die sukses van daardie sessies besluit om vanjaar met prosa-sessies te begin. Hulle het my genader om te help met opleiding en ek is trots om te sê twee van die skrywers se werke word eersdaags gepubliseer,” sê Fransman.

Volgens Fransman is enigiemand welkom wat wil skryf of reeds geskryf het, maar nog slypwerk benodig. “Daar is baie mense wat dalk nie die selfvertroue het om hul werk te publiseer nie, maar ons wil met die slypskool mense help om daardie brug te oorkom. As jy met jou skryfwerk onder die kussing slaap, is dit nou die tyd om dit uit te haal,” sê hy.

  • ‘n Dagkursus word op 7 Desember in die National Hotel, Voortrekkerweg, Parow, vanaf 09:00 tot 13:00 aangebied. Koste beloop R200 per persoon. Belangstellendes kan Christa Kleynhans op 079 861 8422 WhatsApp voor 20 November 2024. 

You need to be Logged In to leave a comment.