Vier gewapende mans het Sondag 2
Maart omstreeks 16:05 by die Kwikspar in Haarlem-weg, Stellenberg ingestorm en
die personeel met drie wapens gedreig.
Die verdagtes het van die toneel in
’n wit Chevrolet Captiva met ’n onbekende hoeveelheid kontant gevlug, aldus
lt.kol. Debbie Brönn, die waarnemende stasiebevelvoerder van
Durbanville-polisie.
Niemand is tydens die voorval beseer
nie.
“Die mans het bloot die winkel
binnegeloop, hul hemde opgelug en die personeel en klante met drie wapens
gedreig. Een verdagte het ’n personeellid met die wapen tot by die winkel se
kluis gelei en haar gedwing om die sleutel te oorhandig,” verduidelik Brönn.
Dit kan nie bevestig word watter
wapens tydens die rooftog gebruik is nie.
“Die nommerplate van die verdagte
voertuig is ook intussen bevestig om gekloonde plate te wees. Die soektog na
die verdagtes duur voort,” sê sy.
TygerBurger het die bestuurder van die winkel gekontak, maar geen kommentaar is gelewer nie. Die bestuurder het wel aangedring dat die voorval aan die polisie oorgelaat word.