Anet Oosthuizen se erf in 11de Laan was sedert Sondag om 07:30 in die voor- en agtertuin, swembad, sowel as ’n ondergrondse kelder, enkeldiep onder rioolwater.


In die afgelope 18 jaar wat Anet Oosthuizen, ’n ontwerper, in Boston woon, is haar erf in 11de Laan al twee keer deur rioolwater oorstroom.

Meer onlangs op Sondag 18 Augustus, was haar voor- en agtertuin, swembad, sowel as ’n ondergrondse kelder, enkeldiep onder die rioolwater.

“Die stank was walglik – eintlik onbeskryflik. Dit was baie erg om so lank op dienslewering te wag.”Oosthuizen het met bitterheid aan TygerBurger bevestig dat werkers van Stad Kaapstad eers die volgende dag (Maandag 19 Augustus) om 12:00 by haar huis opgedaag het.

Hoof kom uit

“Die hoof van die span wat uiteindelik uitgekom het om die probleem op te los, het net sy kop geskud toe hy die kwessie van die riool bekyk.

“Hy het aan my gesê dit was klaarblyklik ’n noodgeval wat reeds dieselfde dag gepak moes word,” vertel Oosthuizen.

Die rioolwater het reeds die Sondag om 07:30 haar erf oorstroom.

“Die ‘call centre’ het vir my gesê daar word nie op Sondae op noodgevalle reageer nie, en dat ek tussen 24 tot 48 uur moes wag.”

LEES | Kliniek se deure bly oop ten spyte van riool- en wateruitdaings

“Dis maklik vier strate se riool wat deur die pype beweeg, wat opgestoot het deur twee dreine op my erf – een op die sypaadjie van die straat, en die ander drein in die voortuin.

“Die uitlaat van dié pype loop tot agter in my agtertuin in.”

Die skade aan haar mooi groen grasperk en tuin is nog onbekend. “My ondergrondse kelder wat as stoorplek dien, is met riool deurtrek. Ek het ’n houttafel en -stoele, en ’n paar materiaal-doeke wat skade gelei het,” sê sy.

Nie geskikte masjien

Die span wat uitgekom het, het boonop nie die geskikte masjien byderhand gehad om die water uit te suig nie, meen sy.

“Die einste masjien is glo buite werking,” is wat ’n stadswerker aan Oosthuizen verduidelik het.

LEES | Rioolstelsel misbruik in Wesbank

Die eerste riool-oorstroming het bykans twee jaar gelede gebeur.

“Die Stad se destydse reaksie tot die probleem was baie vinniger en meer effektief – hulle het sommer dadelik ’n kontrakteur uitgestuur om te kom kyk wat aangaan.

“Die kontrakteur het ook oor behoorlike masjinerie beskik om al die vrot water op te suig.”

Wat vir Oosthuizen onaanvaarbaar is, was dat dit die gemeenskap was wat dadelik gehelp het.

“Dit was die bure en Wyk 3-raadslid Annelize van Zyl wat my te hulp gesnel het en nie die Stad nie.

Werkers nie in slegte lig gestel nie

“Ek wil ook nie die einste werkers wat wel hier was, in ’n slegte lig stel nie; ek verstaan dit was na ure met min hande aan boord.

“Maar die Stad kan gerus hulle dinge agtermekaar kry om sulke buitengewone noodgevalle te hanteer.”

LEES | Riool vloei in straat in Brackenfell

Die Stad Kaapstad sê die feite van hierdie aangeleentheid word nog vasgestel, maar in die algemeen kan inwoners ’n vorm vir ’n openbare aanspreeklikheidseis voltooi en dit by die Stad se versekeringseise-afdeling indien, saam met alle ondersteunende inligting.

Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot fakture van die koste wat aangegaan is ten opsigte van enige herstelwerk wat gemaak is.

Die Stad voeg by dat dit belangrik is om daarop te let dat elke eis op sy eie meriete beoordeel word. Hulle het ook belowe om op ’n latere stadium terugvoer te gee oor die voorval,

You need to be Logged In to leave a comment.