Vier moorde is die afgelope tyd binne enkele ure in Parow gepleeg.

In die mees onlangse voorval is twee senior burgers, ’n egpaar van Parowvallei, by hul huis in Markstraat vermoor. Twee verdagtes is reeds in verband met die moorde op Pieter Senekal (71) en sy vrou, Betsie (77), in hegtenis geneem.

Foto ter illustrasie Foto: Argief

Luidens mediaberigte is die egpaar Sondag 19 November vermoor en is hul liggame die volgende dag deur hul bure ontdek. Die polisie het die Maandag 20 November om 08:30 op ’n noodoproep gereageer. Albei slagoffers is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die motief vir die aanval is huisroof, sê die Wes-Kaapse polisie. Volgens die polisie is toegang tot die huis deur die plafon verkry.

Een verdagte, ’n 34-jarige man, het Maandag 27 November in die Bellville-landdroshof in verband met die moorde verskyn. Sy medepligtige, ’n 27-jarige man wat reeds in dieselfde hof verskyn het, verskyn vandag weer vir borgtoginligting. Laasgenoemde is ’n dag ná die moorde aangekeer en sy medepligtige is twee dae daarna aangekeer.

AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die twee is deur speurders verbonde aan die polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad aangekeer. Hulle word van moord aangekla.

Nog twee moorde is Saterdag 18 November in dieselfde gebied aangemeld.

Volgens Swartbooi word die omstandighede rondom dié moorde, wat in Rileystraat gebeur het, nog ondersoek.

“Die Parow-polisie het op ’n klagte gereageer en met hul aankoms om 12:30 het hulle op ’n lyk met veelvuldige koeëlwonde afgekom,” sê Swartbooi.

Hy sê nog ’n slagoffer, wat gewond was en van die toneel probeer vlug het, het later aan sy wonde beswyk. Dié persoon is in Riebeeckstraat, nie ver van Rileystraat af nie, gevind.

“Albei slagoffers is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die motief vir die aanval word nog ondersoek,” sê Swartbooi.

Die slagoffers is glo deur onbekende mense agtervolg en van naby geskiet. Die slagoffers is onderskeidelik 39 en 40 jaar oud.

You need to be Logged In to leave a comment.