Een van die mans wat verlede week ’n gesin uit hul brandende huis en van ’n gewisse dood gered het, sê hy voel goed om ander te help.

Marcelino Petersen, Dino Darries, Dwayne Jeffrey en Elton Erasmus was die helde toe die huis op die hoek van 24ste en Norwoordstraat aan die brand geslaan het.

Darries is die een wat teen die kant van die dubbelverdiepinghuis opgeklim het sodat hy ’n ruit kon breek en die gesin na benede kon klim.

Peterse sê hy was nog in die bed toe iemand hom verwittig het dat ’n huis in ligte laaie is.

“Ek het opgestaan en vinnig my klere aangetrek en na die toneel gehardloop.

“Daar het ek en die ander drie die ouers en twee seuns gered. Daarna het ons net op die vuur gefokus en toe die brandweer opdaag, het ons hulle ook gehelp om die brand te blus.

“Ons was nie bang nie en wou net seker maak almal is veilig uit die huis uit.

“Ons kon nie net staan en toekyk hoe die huis brand met mense daarin nie,” sê hy.

Petersen sê hy en die ander voel lekker omdat hulle ander mense kon red.

Imraahn Mukkadam, woordvoerder vir die Elsiesrivier- gemeenskapspolisiëringsforum, sê Petersen, Darries, Jeffrey en Erasmus is helde en die gemeenskap kan doen met nog sulke manne.

“Dit is goed om te weet dat daar nog manne is wat nie bang is om enigiets te doen om hul medemens te help nie.

“Ons sidder om te dink wat kon gebeur het as hulle nie op die toneel opgedaag het nie. Daar kon vandag eerder vier lyke gewees het, maar hierdie manne het seker gemaak hierdie mense lewe nog. Ons eer hulle vir hul dapperheid,” sê Mukkadem.

Die huis wat aan die brand was, het aansienlike skade opgedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.