Nie nodig vir OS FOTO: ROBERTSON WINE VALLEY


Vier lente op die oewers van die Breederivier by Robertson-wynvallei se 11de jaarlikse Wine on the River-fees. Dit vind van 14 tot 16 Oktober plaas op die pragtige plaas Goudmyn wat langs die rivier geleë is aan die R317 tussen ­Robertson en Bonnievale.

Geniet plattelandse gasvryheid op sy beste by hierdie fantastiese gesinsgebeurtenis. Baljaar in die son, luister na die verleidelike klanke van jazz en blues, verken kuns- en kunsvlytstalletjies, teug aan geliefde plaaslike wyne onder die skadubome en verlustig jou in plattelandse kookkuns.

Feesgangers kan ook met wynmakers gesels en deelneem aan voorafbespreekte opvoedkundige wynproe-sessies.

Die gewilde Viljoensdrift-rivierboot bied ontspannende rivierritte vir die hele gesin ten bate van die Breede River Hospice. Gesinsvriendelike aktiwiteite word ook aangebied, insluitend ’n kinderspeelplek met gesigverf, trampolien, klimraam en trekker- en perdryritte.

Ná verlede jaar se sukses vind die tweede jaarlikse Sanlam Duck Derby weer plaas. Die opbrengs uit hierdie inisiatief word bewillig aan die Bonnie-People Project in Bonnievale wat inwoners van die informele nedersetting help met volhoubare bouwerk en ontwikkeling in hul gemeenskap om vir hul kinders ’n beter toekoms te kan verseker.

Die fees is die ideale geleentheid om jou voorraad gunstelingwyne uit die Robertson-wynvallei teen kelderpryse aan te vul.

Robertson-wynvallei ondersteun die verantwoordelike verbruik van wyn en daar sal ’n geen-toleransie-benadering teenoor dronkbestuur gehandhaaf word. Om verantwoordelike wynproe te ondersteun, is gratis pendeldienste op Saterdag 15 Oktober na die feesterrein beskikbaar vanaf sentrale punte in die omliggende dorpe Robertson, Bonnievale en Montagu. Die vallei se verkeersdepartement sal optree waar nodig.

Gehoorsaam die verkeersreëls deur nie op die paaie te parkeer nie, maar op die aangewese parkeerterreine.

Kaartjiepryse wissel van R80 tot R250, met gratis toegang vir kinders onder 18 jaar (kinderaktiwiteite werk op ’n betaal-per-gebruik-grondslag) en spesiale pensioenaristariewe. Bespreek gerus jou kaartjies vooraf by www.webtickets.com. ’n Spesiale aanbod vir feesgangers wat vroeg bespreek, is beskikbaar tot 30 September. Kaartjies is ook gedurende die naweek by die ingang beskikbaar.

Wen ’n wegbreeknaweek vir jouself!
Twee gelukkige lesers sal elk die volgende wen: ’n stel van vier naweekkaartjies; verblyf vir vier tydens die naweek van die fees en ’n gemengde kis RWV-wyne. Om in te skryf, gaan na ­wineonriver.com. Die kompetisie sluit op 29 September. Bepalings en voorwaardes geld.

You need to be Logged In to leave a comment.