Die VGK Silversands vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en daar gaan deur die loop van September omtrent feesgevier word.
Volgens Dirk Boer, woordvoerder vir die gemeente, is die kerk ’n wykskerk van die VGK Sarepta en het gemeentelede twee dekades gelede besluit om hul eie kerkgebou op te rig.
“Ons is ’n trotse gemeente en ons dank die Here dat hy ons tot by hierdie mylpaal gedra het. Met die Here se hulp kyk ons nou vorentoe na die volgende 20 jaar,” sê Boer.
Boer sê die feesvierings begin eerskomende Vrydag met die jeug wat ’n toneel-opvoering gaan lewer.
“Daar gaan ook gedigte voorgelees word en koffie en lekkernye sal te koop aangebied word. Op Saterdag gaan ons ’n pretloop hou en ook ander aktiwiteite aanbied. Daar sal ’n reuse-verjaarsdagkoek wees en die braaivleisvure gaan ook hoog brand. As deel van ons gemeenskapsplig gaan ons ook bloed skenk,” sê Boer.
Die Sondagskoolkinders gaan ook op die dag hul kunswerke uitstal en kan hulle verlustig in verskillende lekkernye soos roomys en koek.
Boer sê die naweek gaan met ’n dankseggingsdiens afgesluit word.
“Sondag om 10:00 gaan ds. Quinton Minnaar, ’n voormalige proponent van die gemeente, die diens lei. Tydens die diens sal ontslape leiers van die gemeente vereer word. Die lof-en-aanbiddingsgroep, asook die kinder- en mannekore gaan optree,” sê Boer.


