Die jaar word met ‘n reeks Kerskonserte afgesluit in die Endlersaal van die Universiteit Stellenbosch Konservatorium. Gehore kan uitsien na musiek wat vrede, gemeenskap en hoop vier.
Op Saterdag 8 November om 19:00 sal die Stellenbosse Stadsorkes, onder leiding van Paul van Zuilenburg, hul eerste Christmas Festival na die Endlersaal bring. Die program sluit John Rutter se “The Lord Bless You and Keep You”, Karl Jenkins se “Benedictus”, Hans Zimmer se “Silent Night” en Alan Silvestri se “Spirit of the Season” in.
Sing saam
Bekende Kersliedere soos “O Come All Ye Faithful”, “Silent Night” en “Hark the Herald Angels Sing” sal gehore uitnooi om saam te sing.
Hoogtepunte soos “Nella Fantasia”, “Vivo per lei” en Michael W. Smith se “Freeze the Frame” sal die aand verder verryk.
Die soliste Vasti Zeeman-Knoesen, Janelle Speelman, André Terblanché en Corneil Muller tree saam met die orkes op.

Kore
Op Saterdag 15 en Sondag 16 November om 15:00 bring Johan de Villiers sy koorproduksie From Karl Jenkins to Christmas Joy met meer as 100 oudlede van die Libertaskoor en ander sangstemme.
Die konsert open met Jenkins se “Stabat Mater” wat antieke Latynse tekste met geskrifte uit die Gilgamesh-epos en Rumi se poësie kombineer. Minette du Toit-Pearce, mezzosopraan, sal as solis saam met die orkes gelei deur Petri Salonen, optree.
Ná die pouse volg die première van Zorada Temmingh se “Christmas Joy” vir koor, orrel en orkes met nege Kersliedere uit verskillende kulture, wat “Adeste Fidelis” en “Silent Night” insluit.
“Hierdie konsert vang sowel die diepte as die ligtheid van Kersfees vas,” sê De Villiers.
Afsluiting
Die seisoen eindig met die Tygerberg-kinderkoor, onder leiding van Karina Erasmus, wat twee uitvoerings van hul Kerskonsert getiteld Christmas Time sal lewer op Saterdag 29 November om 15:00 en Sondag 7 Desember om 16:00.

Die program sal tradisionele en kontemporêre Kersliedere bevat. “Elke keer wat hierdie koor optree, herinner dit ons aan die krag van jong stemme,” sê Vicky Davis, artistieke bestuurder.
“Hul jaarlikse Kerskonsert is ‘n perfekte afsluiting vir die jaar.”
Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.



You must be logged in to post a comment.