Xavier (5) Mitchell is glo deur sy oppasser se broer vermoor.
Xavier (5) Mitchell is glo deur sy oppasser se broer vermoor.

Die Bishop Lavis Misdaadvoorkomingsforum (BLCPF) het die hof se beslissing verwelkom dat die vermeende moordenaar van die vyfjarige Xavier Mitchell, Mervin White, geskik is om verhoor te word.

Mitchell is op 7 Augustus verlede dood toe sy ma hom in die sorg van sy oppasser gelaat het. Die oppasser is bure van die Mitchells en White is haar broer. Die oppasser het glo vir ‘n kort rukkie die kind in die sorg van haar broer gelaat, waarna hy hom na bewering drie keer in die rug gesteek is.

Geestesiekte

Tydens ‘n vorige verskyning het die hof gelas dat, White, wat glo aan ‘n geestesiekte ly, vir psigiatriese waarneming gestuur word om te bepaal of hy geskik is om verhoor te word. Woensdag het die hof beslis die verdagte is geskik om verhoor te word en dat sy verhoor op 10 November in die Parow-streekhof sal begin.

Die BLCPF, wat sedert die moord saak getrou volg en hom beywer dat Xavier se dood nie net nog ‘n statistiek word nie, het by monde van voorsitter van die BLCPF, Graham Lindhorst, die hof se beslissing verwelkom. “Hierdie verwikkeling bring die familie nader aan geregtigheid vir Xavier en nou kan al die vrae wat die ouers en die gemeenskap het beantwoord word. Ons wonder steeds hoekom, maar ons is seker dat die ondersoekspan ‘n waterdigte saak voor die hof gaan bring,” sê Lindhorst.

Hy het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om aan te hou om die familie te ondersteun tot geregtigheid uiteindelik gaan geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.