Betogers moet in hof verskyn

Twaalf betogers wat gister (Dinsdag) in hegtenis geneem is vir onder meer aanklagte van openbare geweld ná gewelddadige protesaksie op die kampus van die Kaapse Skiereilandse Unversiteit van Tegnologie (KSUT), moet vanoggend (Woensdag) in die hof verskyn.

Dele van die kampus, wat die ingang en die kampus se sekerheidsgebou insluit, is die Dinsdagnag aan die brand gesteek. Twee sekerheidswagte is in die brandende gebou toegesluit en het rookinaseming opgedoen. Sake van poging to moord is aanhangig gemaak. Twee motors is ook aan die brand gesteek, het dié universiteit se woordvoerder, Lauren Kansley, vanoggend aan TygerBurger gesê.

Hofsaal G by die Bellville-landdroshof was volgepak, en teen 10:50 kon niemand meer die vertrek binnegaan nie, hoewel die betogers nog van die Bellville-Suid-polisiekantoor na die hof vervoer moes word vir hul verskyning.

Met TygerBurger se aankoms was daar reeds ‘n sterk polisieteenwoordigheid met een waterkanon op ‘n gereedheidsgrondslag voor die hofgebou gestasioneer, en etlike beamptes wat die ingange bewaak het.

Nege betogers is aangekla vir openbare geweld en drie vir die oortreding van ‘n beskermingsbevel en opsetlike saakbeskadiging, luidens die hofrol.

You need to be Logged In to leave a comment.