Die Stad Kaapstad het die inhegtenisneming verwelkom van ’n verdagte wat met die moord op Wendy Kloppers (48) van Kuilsrivier verbind word.
Kloppers, wat vir die Stad se luggehaltebeheer-afdeling gewerk het, was aan diens toe sy op 16 Februarie verlede jaar by die Symphony Way-behuisingsprojek in Delft doodgeskiet is waar sy in haar motor gesit het.
’n Veiligheidswag is ook in die voorval gewond.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester, het die hoop uitgespreek dat die inhegtenisneming die eerste stap na geregtigheid vir Kloppers se familie en kollegas sal wees, asook vir die begunstigdes van die behuisingsprojek wat daardeur tot stilstand gedwing is.
Warren Lee Dennis (40), wat aangekla word van die moord op Kloppers, het op Dinsdag 25 Junie in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Hy het homself die vorige dag aan die polisie oorgegee.
Hy het saam met vier ander beskuldigdes, Jonathan (Seun) Cloete, Abraham Wilson, Shakeel Pelston en Imtyaaz (Stone) Sedick, verskyn wat almal verbind word met Ralph Stanfield, vermeende leier van “The Firm”, ’n misdaadonderneming, en glo ’n 28-bendeleier. Stanfield is reeds in aanhouding.
Kriminele netwerk
Die Burger het berig dat Dennis ook saam met Stanfield en verskeie ander mense in die prioriteitshof in Khayelitsha tereg staan op aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), aanklagte van bedrog, korrupsie, die vervalsing van vuurwapenlisensies, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook rampokkery. Die verhoor is veronderstel om in September te begin.
Dennis en Sedick het onder meer op aanklagte van moord, poging tot moord, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie verskyn. Albei word deur aanklagte in verband met die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) in die gesig gestaar.
Die staat het die hof gevra om die saak met ’n dag uit te stel sodat die saak (teen Dennis, Cloete, Wilson, Pelston en Sedick) by ’n saak teen Stanfield, sy vrou, Nicole Stanfield, Johannes (Bal) Abrahams, Denver Booysen en José Brandt gevoeg kon word. Hulle staan in dié saak in die Kaapstad-landdroshof tereg op aanklagte van voertuigdiefstal, bedrog, roof, poging tot moord en aanklagte ingevolge Poca.
Verlede Donderdag (27 Junie) is nog drie mense – Michael Morris, Chevonne McNabb en Sharazaadt Essop – by die saak gevoeg, wat die getal beskuldigdes op 13 te staan bring.
Maygene de Wee van Die Burger het berig die saak teen Stanfield, sy vrou en 11 ander is vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas.
Die hof het ook gehoor dat die polisie minstens nog ses mense soek en dat nog aanklagte bygevoeg gaan word.
Volgens die staat is daar tans vier moordaanklagte en verskeie aanklagte van poging tot moord teen die beskuldigdes. Almal word ook aangekla ingevolge Poca, bedrog, roof, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Die saak is tot 13 September vir verdere ondersoek uitgestel.
Meld aan
Die R1 miljoen-beloning vir inligting wat lei tot die vervolging van diegene betrokke by Kloppers se moord, geld steeds. Hill-Lewis het verlede week gesê die Stad hou verwikkelinge rondom die saak fyn dop. “Ons doen ’n beroep op enigeen met inligting wat die vervolging kan steun, om na vore te tree.”
Carl Pophaim, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, het gesê elkeen van die moordenaars betrokke by Kloppers se dood moet deur die volle mag van die reg in die gesig gestaar word.
Hy het gesê die Stad sal aanhou om bedryfstelsels te verander om die risiko te beperk dat afpersers die Stad se programme ontwrig.
Die werk aan die Symphony Way-projek is ná die moord op Kloppers opgeskort.
“Ons kyk daarna om die werk so gou as moontlik vanjaar te hervat,” het Pophaim gesê.
- Skakel 0800 1100 77 of 0800 00 6992 (te alle ure) of stuur ’n e-pos na SSIMS.SSIUReporting@capetown.gov.za met inligting.





