‘n Nasionale organisasie sonder winsbejag, Women for Change (WFC), het onlangs hulde gebring aan die moordslagoffer Noxolo Mbane (43), wat onlangs by ‘n nagklub in Voortrekkerweg in Parow vermoor is (“Vrou aangekeer ná moord”, TygerBurger, 3 April 2025).
WFC is in 2016 op die been gebring en is daarop gemik om geslagsgebaseerde geweld te bekamp.
Op Maandag 24 Maart het die organisasie besonderhede oor die voorval op syl sosialemediablad gedeel. Daarin bevestig hulle die aanval op Mbane en word daar beweer dat sy in ‘n geskil met die verdagte betrokke geraak het. Dit het glo in ‘n bakleiery ontaard waarna Mbane twee keer gesteek is.
WFC het sy volgelinge versoek om Mbane se naasbestaandes by die Bellville-landdroshof, waar die verdagte haar laaste verskyning gemaak het, te ondersteun.
“Ons harte is gebroke weens die verlies van so ‘n pragtige siel. Nog ‘n suster is vermoor. Hoeveel meer sulke gevalle voordat geslagsgebaseerde geweld tot ‘n nasionale ramp verklaar word?” skryf die organisasie.
Hulle moedig hul volgelinge aan om hul aanlyn-petisie, wat eis dat geslagsgebaseerde geweld tot ‘n nasionale ramp verklaar word, te onderteken.
Mbane, ‘n inwoner van Kraaifontein, is op Dinsdag 11 Maart vermoor. Die voorval het by die Friends African Bar plaasgevind. Die verdagte, Anna Kata (22) van Khayelitsha, het Mbane glo met ‘n mes in die bolyf gesteek. Mbane is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Sers. Graham Swanson, ‘n speurder verbonde aan die Parow-polisie, het verlede week aangedui dat Kata weer op Dinsdag 6 Mei in die Bellville-landdroshof sal verskyn. Sy word intussen aangehou.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
Besoek womenforchange.co.za/petition-gbvf-national-disaster/ vir die petisie.