Foto ter illustrasie.

Argief

Een verdagte is gister
(Donderdag 5 September) in hegtenis geneem vir die vermeende ontvoering van ’n
gesin van vier. ’n Losprys van R400 000 is
glo vir hul vrylating geëis.

AO Zinzi Hani, woordvoerder
van die Valke, sê die ontvoering het op 24 Augustus plaasgevind, maar die gesin
is op 25 Augustus vrygelaat ná ingryping van ’n multidissiplinêre taakspan wat
die Valke, provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad en ’n onderhandelingspan
ingesluit het.

Hani sê die vier gesinslede
het van Kuilsrivier vertrek en was onderweg na die Helderstroom-gevangenis naby
Caledon, waar die pa as tronkbewaarder werk. Sy het nie bevestig of die gesin
in Kuilsrivier woon nie.

“Die voertuig waarin hulle
gery het, is later verlate in Endlovini, Khayelitsha, gevind. Die kapers het ’n
losprys van R100 000 per persoon, altesaam R400 000, van ’n familielid geëis. Hulle het hom beveel om
nie die polisie in te lig nie,” sê Hani.

Hani sê die vier gyselaars is
op 25 Augustus omstreeks 04:30 naby Philippi-Oos vrygelaat. Polisiebeamptes van
Philippi-Oos het die gesinslede na die Kuilsrivier-polisiekantoor vervoer.

Die 34-jarige verdagte sal sy
eerste hofverskyning op Maandag 9 September in die Paarl-landdroshof maak.

Hani sê die verdagte is
moontlik deel van ’n sindikaat en nog mense sal na verwagting binnekort in
hegtenis geneem word.

You need to be Logged In to leave a comment.