Die verdagte wat Vrydag van ’n dubbele-moordtoneel in die Bellville-sakekern gevlug het na twee mans by ’n kroeg doodgeskiet is, is Woensdag 13 November deur die Bellville-polisie in hegtenis geneem.
Dit volg na die polisie ondersoek ingestel het na twee voorvalle van moord nadat twee mans, onderskeidelik 18 en 40 jaar oud, op Vrydag 8 November omstreeks 19:30 by ’n kroeg in die omgewing van South- en Blankenbergstraat doodgeskiet is.
“Sers. Dimitri Onverwaght, die ondersoekbeampte, het leidrade opgevolg en die 33-jarige verdagte is by die Kaapstad-taxistaanplek vasgetrek,” het, lt.kol. Fienie Nimb polisiewoordvoerder, gesê.
Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder FC van Wyk het voorheen bevestig dat die 18-jarige man doodgeskiet is toe hy die verdagte agternagesit het in reaksie op die eerste skietvoorval van die 40-jarige Chinese burger.
KYK | Polisie ondersoek skietdood van twee mans in Bellville
Nimb sê die verdagte sal Vrydag 15 November in die Bellville-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn.
“Die motief agter die dubbele moord is nog onbekend aangesien niks op die toneel gesteel of geroof is nie. Onverwaght word vir die vinnige oplos van die dubbele moordsaak geprys,” sê Nimb.