Asof sakeondernemings nie genoeg uitdagings het tussen toenemende beurtkrag en dalende koopkrag nie, is daar ook nog belhamels wat blykbaar genot daaruit put om skade aan ander se eiendom aan te rig.
Die week van Gwen Truter, eienaar van Point-S, ’n bande-onderneming in Van Riebeeckweg in Kuilsrivier het verlede week met ’n onaangename verrassing begin.
Met personeel se aankoms by die werk Maandagoggend het hulle gesien drie groot ruite van die onderneming is deur koeëls, vermoedelik van ’n lugpistool, getref.
“Ons moes twee weke vroeër ook ’n ruit vervang wat oor ’n naweek gestamp is. Dit is taamlik duur en moeite om dit te laat vervang.”
Truter sê daar was ’n paar buurtwaglede in die rondte wat gesê het nog drie sakeondernemings se ruite is ook getref. Die vermoede is dat die skote in die verbyry afgevuur is.
“Die drie skote is almal in ’n ry op dieselfde hoogte,” sê Truter.
Sy meen dit kan dalk ’n manier wees vir skelms om te kyk of daar ’n alarm is wat afgaan of om te kyk of die vensters breek, en dus om moontlik die onderneming te besteel.
Volgens die Kuilsrivier-polisie blyk daar nie ’n tendens te wees van spesifiek ruite wat met lugpistole of -gewere geteiken word nie. Ruite wat met klippe gegooi word, blyk veel meer algemeen te wees.
Die polisie het ’n toename in kwaadwillige beskadiging van eiendom die afgelope tyd waargeneem.
Truter maan motoriste moet ook versigtig wees op die R300. Hulle het onlangs ’n kliënt gehad wie se motor se onderstel, band en velling erg beskadig was nadat hy oor ’n kartondoos met bakstene daarin op dié pad gery het.





