Die wêreld vier vandag Wêreld Brooddag en Suid-Afrika se eie braaikoning, Jan Braai, reken die braaibroodjie kan “ongetwyfeld” as Suid-Afrika se nasionale brood aangewys word.
Die Internasionale Bakkers en Suikerbakkers-unie het brooddag gestig en dit val saam met die Voedsel en Landbou-organisasie, wat in 1945 deur die Verenigde Nasies van stapel gestuur is om honger te beveg. Daardie veldtog se leuse was Laat daar Brood wees.
Die slim mense vermoed brood het reeds 12 000 jaar gelede ontstaan toe gemaalde koring gemeng is en op warm klippe gebak is.
Rys saam met brood
Volgens Jan is brood onontbeerlik in vandag se lewe. “Brood laat jou per definisie altyd toe om deeglik te wees en sal altyd saam met jou rys. ‘n Braaibroodjie neem iets wat reeds amper perfek is en reeds gaar is; brood, en dan rooster jy hom ‘n tweede keer weer gaar. Jy botter hom altyd aan die buitekant en wat beter as brood is, is gebotterde brood. Dan is dit gevul met die perfek gebalanseerde en unieke smaak kombinasie van tamatie, uie, verouderde cheddar kaas en ‘n bietjie blatjang. Verkieslik gebraai in ‘n rooster waarop jy net voor dit tjops en boerewors gebraai het dat die vette daarvan op die rooster nog die ekstra bonus geure verskaf,” sê Jan.
Dan raak hy liries oor braaibroodjies. “Braaibroodjies en hoë kwaliteit boerewors is die twee klassieke braai spyskaart-items wat absoluut uniek en spesiaal aan braai is. Suid Afrika het uitstekende lam, bees, en seekos. En ons hoender en vark is so goed soos enige ander plek s’n. Maar ons braaibroodjies en boerewors, dit is wat ons kop en skouers bo ander nasies wat vuurmaak laat uitstaan,” sê hy trots.
Sy jongste brood-herinnering is sy ouma se huis-assistent wat hom geleer het hoe om Portugese-rolletjies te maak. “Ek gebruik die resep en tegniek vandag nog.”
Anti-brood fase verby
Jan het geen erg aan mense wat hul neus optrek vir brood nie. “Daar is natuurlik mense wat regtig medies allergies is. Maar soos ek dit verstaan is daai belaglike algemene anti-brood fase nou eers iets van die verlede. Ek dink die mense wat deel was daarvan het besef jy lewe net een keer en hoeveel beter die lewe is as jy dit geniet.”
Vir diegene wat Brooddag vier, het hy ‘n spesiale boodskap: “’n Braaibroodjie is jou kans in die lewe om die brood aan al twee kante te botter!”


