Vakansies is van die gevaarlikste tye vir kinders.
Só sê Mariam Visagie van die Heart Community Angels-organisasie in Delft.
Die Angels bied elke dag van die skoolvakansie ’n vakansieprogram aan vir die kinders uit die gemeenskap.
“Skoolvakansies is van die gevaarlikste tye vir kinders in ons gemeenskap. Wanneer hulle by die skool is, is hulle onder die toesig van onderwysers. In ’n gemeenskap soos Delft is baie kinders deur die dag aan hul eie genade oorgelaat. Dié ouers wat wel werk, moet baie ver reis en moet reeds vroeg die huis verlaat en keer dan eers laat terug,” sê Visagie.
Volgens haar is ’n ander uitdaging dat daar nie ontspanningsgeriewe in Delft is nie.
“Kinders het niks anders om te doen as om op straat rond te hang nie. Hulle word aan al die elemente en ander gevare blootgestel, dus skep ons ook ’n veilige hawe vir hulle,” sê Visagie.
Sy sê hulle ontvang elke dag sowat 150 kinders. “Hulle kry ontbyt en middagete en soms gee ons ook vir hulle partytjiepakkies.
“Kinders verdien elke nou en dan ook ietsie lekkers,” sê sy.
Die kinders beoefen onder meer sport soos netbal en sokker, speel bordspeletjies en neem aan verskeie ander aktiwiteite deel.





