`n Rekord getal studente het vandeesweek by die Universiteit van Stellenbosch gegradueer.
`n Rekord getal studente het vandeesweek by die Universiteit van Stellenbosch gegradueer.

Meer as 6 000 graduandi het vandeesweek tot en met Vrydag, oor die verhoog van die Coetzenburg-sentrum gestap toe die Universiteit Stellenbosch (US) sy grootste reeks Desember-gradeplegtighede ooit gehou het.

Deur die loop van die week het die US by 13 plegtighede sertifikate, diplomas en grade aan 6 405 studente oor al sy fakulteite heen toegeken.

Hierdie allesoortreffende geleentheid sal ook die universiteit se laaste Desember-gradeweek wees voor die oorgang na `n enkele jaarlikse gradeplegtigheidstydperk vanaf 2027.

Volgens die US het kwalifikasies op voorgraadse én nagraadse vlak gestyg met doktorsgrade wat met ‘n beduidende 11,8% in vergelyking met verlede jaar gestyg het. Hoewel meer doktorsgrade tradisioneel aan mans as vroue toegeken is, het meer vroue as mans hierdie Desember hulle doktorsgrade ontvang. Die Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW), Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe en Teologie het almal ‘n beduidende dubbelsyfer-toename in die aantal kwalifikasies wat vanjaar toegeken word, getoon. Opvoedkunde, Geneeskunde en esondheidswetenskappe en Krygskunde het ook ‘n toename getoon.

Ongeëwenaard

Die Fakulteit Regsgeleerdheid sal ‘n ongeëwenaarde 74 LLB (voorgraadse) en 96 LLB (nagraadse) kwalifikasies toeken, op van onderskeidelik 56 en 49 in Desember 2024. ‘n Rekordgetal van 248 BRek-kwalifikasies sal in die Fakulteit EBW toegeken word. Ook ʼn rekord is die 60 BA (Menslike Hulpbronbestuur)-kwalifikasies wat toegeken word in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Beide die Fakulteite Regsgeleerdheid en Natuurwetenskappe het rekordgetalle meesterskwalifikasies, met onderskeidelik 65 en 83.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe ken sy hoogste aantal doktorskwalifikasies in vyf jaar toe, met 24 kwalifikasies, insluitend ses PhDs in Polimeerwetenskap. Die Fakulteit Teologie het ook sy hoogste aantal doktorsgrade, met 11 wat vanjaar toegeken is, teenoor die sewe wat in 2024 toegeken is.

Alhoewel dit nie die hoogste in die afgelope vyf jaar is nie, sal die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe 30 doktorskwalifikasies toeken, byna dubbel die aantal wat verlede jaar toegeken is. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe sal 25 doktorsgrade toeken. EBW sal 15 doktorsgrade toeken, wat gelykstaande is aan onlangse jare. AgriWetenskappe ken 12 doktorsgrade toe. Die Fakulteit Opvoedkunde sal vyf PhD’s toeken, terwyl Krygskunde en Regsgeleerdheid onderskeidelik twee en een doktorale kwalifikasies sal toeken.

“Gradeweek is altyd ‘n oomblik van diepe trots vir ons Universiteit wanneer ons ons studente eer wat hierdie merkwaardige mylpaal bereik het. Ek wens elke graduandus geluk met hulle harde werk en deursettingsvermoë. Mag hierdie prestasie die begin van ‘n leeftyd van doelgerigtheid en moontlikhede wees,” sê prof Deresh Ramjugernath, die US se rektor en visekanselier.

Vier eredokterosgrade

Die Universiteit sal ook eredoktorsgrade aan buitengewone individue toeken wat hulleself op hulle onderskeie gebiede onderskei het en betekenisvolle bydraes tot die samelewing gelewer het. Drie eredoktorsgrade word gedurende hierdie Desember-gradeweek toegeken.

Colin Deiner, die Wes-Kaapse provinsiale regering se hoofdirekteur: rampbestuur en brand- en reddingsdienste, sal die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang. Hy word internasionaal vir sy uitgebreide kundigheid in rampbestuur en noodreaksie erken.

Entrepreneur en SU-alumnus Chris Otto sal die graad Doktor in die Regte (LLD), honoris causa, ontvang. Otto is die medestigter van die PSG-groep en Capitec Bank. Hy is ook die stigtersvoorsitter van die Stellenbosch Regsfakulteittrust wat met die vestiging van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid, die Gys Steyn-leerstoel in Finansiële Reguleringsreg en die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur gehelp het.

Terwyl ons hulde bring aan uitstaande leiers wat eredoktorsgrade ontvang, word ons aan die US se verbintenis tot uitnemendheid, innovasie en maatskaplike impak herinner.

Die wêreldbekende epidemioloog, prof Salim Abdool Karim, wie se eredoktorsgraad van 2024 af oorgestaan het, sal die graad Doktor in die Wetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Die nasionale minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, sal hierdie plegtigheid bywoon. Karim het gedurende die Covid-19-pandemie ‘n leidende rol in Suid-Afrika se reaksie gespeel deur kritieke wetenskaplike leiding oor genetiese mutasies in SARS-CoV-2 en die ontstaan van nuwe variante te bied.

Die US sal nóg drie eredoktorsgrade by sy gradeplegtighede in Maart 2026 toeken. Die Nobelpryswenner en internasionaal bekroonde skrywer, prof Abdulrazak Gurnah; die vooraanstaande sosiale wetenskaplike en epidemioloog, dr Olive Shisana; en die innoveerder, dr Tjaart Johannes van der Walt, sal aanstaande jaar hulle eredoktorsgrade ontvang.

“Terwyl ons hulde bring aan uitstaande leiers wat eredoktorsgrade ontvang, word ons aan die US se verbintenis tot uitnemendheid, innovasie en maatskaplike impak herinner,” sê Ramjugernath.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article