TygerBurger loop deur onder drukkersduiwel

Het jou geliefde TygerBurger-eksemplaar ook vanoggend gelyk asof daar ‘n besope verkleurmannertjie oor geloop het?


Dit was met skok toe die TygerBurger-redaksie Woensdagoggend amper in hul Post Toasties verstik het toe hulle die koerant oopvou: Die drukkersduiwel het ‘n draai kom maak en al wat eksemplaar is, se inhoud heeltemal verfomfaai.

Al die lettertipes het verkeerd gedruk, wat op sy beurt die lengtes van die opskrifte asook die teks of verkort, of verleng het sodat dit bo-oor die kopie loop. In ander gevalle was dit heeltemal te kort vir die teksbokse wat daarvoor geskep is.

Die fout met die lettertipes is tydens die drukproses by die rolpers ongelukkig te laat agtergekom, maar is darem nou reggestel en volgende Woensdag se koerant sal vry wees van enige sulke tegniese foute, beloof die rolpers.

Die TygerBurger-span vra verskoning vir die fout en versoek vriendelik dat ons getroue lesers asseblief hierdie boodskap sal deel en versprei.

You need to be Logged In to leave a comment.