Die Tygerberg-Sakekamer het groter sakekamers in die Wes-Kaap uitgestof om aangewys te word as die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se Sakekamer vir 2023.
Die toekenning is Woensdagaand oorhandig by die AHi se jaarlikse kongres, wat buite Durbanville gehou is.
Ander sakekamers wat as finaliste benoem is, was Moorreesburg, Oudtshoorn, George en Drakenstein.
“Ons het dit glad nie verwag nie, maar die mylpaal is ’n bewys daarvan dat ons iets reg doen om volhoubare sakebelange in ons gemeenskappe te skep,” sê Sunél Beeselaar, voorsitter van die Tygerberg-Sakekamer.
Phillip van Zijl ’n stigterslid van die sakekamer, skryf hul sukses toe aan konstante skakeling met hul lede, sosiale betrokkenheid en skakeling met plaaslike regering.
In dié opsig is die jaarlikse dinee met Kaapstad se burgemeester ’n gewilde item op die sakekamer se kalender.
Só ook die geleentheid om van die Stad Kaapstad se portefeulje vir ekonomiese ontwikkeling te hoor, ’n gholfdag, vroueoggend en baie gewilde potjiekoskompetisie.
Volgens Van Zijl het die sakekamer se aktiwiteite sedert 2012 ’n effektiewe rol gespeel om ’n ondersteunende omgewing te skep vir entrepreneurs en ondernemings om te groei en sukses te behaal.
’n Sprekende voorbeeld hiervan is die totstandkoming van die Brackenfell Business Improvement District (BBID), wat ’n direkte uitvloeisel van die stigting van die sakekamer was.
“As besighede kan ons saamstaan om nog ’n groter verskil te maak om die plaaslike ekonomie in die noordelike voorstede te versterk. As sakemanne verwag ons minder van die regering en doen meer vir onsself deur verantwoordelikheid in ons gemeenskappe te neem,” sê hy.
Volgens dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi, is die Tygerberg-Sakekamer ’n waardige wenner.
“Eenvormige reëls word gebruik wanneer daar beoordeel word. Aspekte soos leierskap, aktiwiteite en die instansie se impak op die plaaslike gemeenskap word in ag geneem. Die grootte van die ledetal maak nie saak nie, maar wel die doeltreffendheid van die kamer in die gemeenskap. Die Tygerberg-Sakekamer is meesters op dié gebied en die uitspraak van die beoordelaars was eenparig,” het hy aan TygerBurger gesê.
Vanjaar se beoordelaars was Japie Gouws en Albert Geldenhuys, albei verbonde aan die AHi Wes-Kaap, en die ekonoom prof. Adel Potgieter van die Nelson Mandela-universiteit.
“Besighede sal moet kragte saamsnoer om kwellings saam aan te pak. Hoewel die sakekamer relatief klein is met sowat 80 lede, is ons uniek in die werk wat ons doen met lede – van eenmansake tot korporatief.
“Die pad vorentoe is gesnoer op korporatiewe samewerking om na eie belange om te sien. Dis die toekoms.”