Tygerberg-natuurreservaat kry binnekort ikoniese geel raam

Besoekers aan die Tygerberg-natuurreservaat sal binnekort hul foto’s vir sosiale media kan neem, en dit boonop nog raam ook. ’n Ikoniese geel raam, wat op verskeie plekke dwarsoor die Kaap voorkom, word vir die reservaat beplan, sê Cheryl Visser, wyksraadslid.

Die advieskomiteelede van die Tygerberg-natuurreservaat se beskermde gebied is (van links) Marisa Langton, Abraham Saaiman, Louise Ferreira, Miquette Temlett, Geordin Hill-Lewis (burgemeester), Sphiwe Maphosa, Tshepo Mamabolo en Cheryl Visser.

Credit: SYSTEM

Besoekers aan die Tygerberg-natuurreservaat sal binnekort hul foto’s vir sosiale media kan neem, en dit boonop nog raam ook. ’n Ikoniese geel raam, wat op verskeie plekke dwarsoor die Kaap voorkom, word vir die reservaat beplan, sê Cheryl Visser, wyksraadslid.

Visser sê as Wyk 1-raadslid en ook as lid van die Tygerberg-natuurreservaat beskermde gebied se advieskomitee, is sy opgewonde om dié goeie nuus oor hul splinternuwe projek met die publiek te deel.

Sy sê die groot geel fotoraam sal binnekort by die natuurreservaat geïnstalleer word, en dat dit binne die raamwerk van die 2023-’24- wyksbegroting van Wyk 1 sal geskied.

“Hierdie unieke fotoraam sal ‘n asemrowende fotogeleentheid bied met die skoonheid van Tafelberg, Tafelbaai, Robbeneiland, Valsbaai, die Kaapse Vlakte, en natuurlik ons eie Wyk 1 in die agtergrond.

“Dit gaan nie net ’n visuele plesier wees nie, maar ook ’n projek met gemeenskapsbelang. Wyk 1 het voorheen ‘n bydrae gemaak deur ‘n uitkykpunt toeganklik vir mense met gestremdhede hier te skep, en hierdie nuwe houtraam sal mooi inpas by die natuurskoon van die reservaat.

“Ek glo sterk daaraan om bewustheid te kweek oor die uitdagings wat die reservaat ervaar en om dit as ’n toeristebestemming te bevorder. Ek is seker dat hierdie projek as ‘n uitstekende opvoedkundige geleentheid sal dien vir jonk en oud van alle gemeenskappe. Die bestuur van die reservaat is positief oor die bydrae en glo besoekers sal dit verwelkom.

“Ons moet ten alle koste hierdie kosbare reservaat vir die nageslag beskerm, en ek vertrou dat hierdie fotoraam ‘n positiewe bydrae sal lewer,” sê Visser.

Daar is tans soortgelyke geel rame dwarsoor die Kaap, insluitend die V&A Waterfront, Tafelberg, Bloubergstrand en Distrik Ses.

You need to be Logged In to leave a comment.