Die Tygerberg-kunssentrum in Du Toitweg in Parow, wat al talle bekende kunstenaars hul talent help slyp het, vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. ‘n Geleentheid word vanaand (Woensdag 16 April) by die sentrum gehou om die mylpaal te vier.
Greg Lawson, woordvoerder, sê vanjaar is ‘n baie spesiale jaar vir die kunssentrum, want nie net is dit die 50ste bestaansjaar nie, maar die huidige skoolhoof, Fransonette Swart, tree in Augustus ná 28 jaar as hoof af.
“Die jaar is gevul met vele uitstallings om die geleentheid te vier,” sê hy.
Die hoogtepunt is vanaand om 19:00 wanneer ‘n uitstalling van oudleerders se werk geopen sal word.
“Baie oud-leerders en personeel werk as kunstenaars en ontwerpers in verskeie velde, en dit was ‘n ideale geleentheid vir ‘n reünie.”
Hennie Meyer, ‘n internasionaal bekende keramiekkunstenaar, sal die openingspreker by vanaand se geleentheid wees. Meyer was self ook in ‘n stadium departmentshoof by die kunssentrum en die instansie lê hom na aan die hart, sê Lawson.
Instelling sedert 1975
Die Tygerberg-kunssentrum het sy ontstaan in 1975 in Parow gehad en is ‘n instelling van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.
Die doel van die kunssentrum is om kuns aan te bied aan leerders in die Tygerbergstreek, wat by skole skoolgaan wat nie kuns as vak aanbied nie.
Die sentrum bied visuele kunste en ontwerp as skoolvakke aan en beskik oor ruim toegeruste ateljees en ‘n vakgerigte biblioteek met rekenaars.
Onder visuele kunste as vak kan leerders tussen fotografie, teken of skilder kies en onder ontwerp kan hulle tussen illustrasie, keramiek, drukkuns, tekstiel of juweliersware kies.
Leerders van reg oor Tygerberg
Volgens Lawson is tans ongeveer 300 leerders van verskillende skole reg oor die Tygerberg-omgewing by die sentrum ingeskryf en talle tuisskool-leerders neem ook kuns as vak hier.
Hy sê die sentrum was aanvanklik in die gebou waar die Hugo Lambrechts-musieksentrum tans in Pictonstraat, Parow, geleë is. “Ná ‘n brand in die ou gebou moes dit egter na die huidige perseel skuif,” sê Lawson.
Die sentrum is een van vyf kunssentrums in die Wes-Kaap.
“Ons is erg trots op ons sentrums en veg hard om die waarde van hierdie instansies onder die publiek se aandag te bring. Ons is die enigste provisie in Suid-Afrika wat nog sulke instansies het. Min mense begryp die waarde wat kuns as vak inhou. Elke loopbaan baat by die vermoë om probleme kreatief te kan oplos. Kuns as vak leer kinders om buite die norm te dink en oorspronklike oplossings vir alledaagse uitdagings te vind,” sê Lawson.
Skakel 021 939 9293 of stuur e-pos na admin@tks.org.za vir nog inligting.

