Die Tygerberg-kinderkoor hou vir die eerste keer sedert 2019 weer ’n Kerskonsertreeks in die Endlersaal in Stellenbosch.
“Sedert Covid-19 kon ons nie die Endlersaal bespreek nie en ons is baie opgewonde om terug te keer met ’n pragtige program,” sê Karina Erasmus, dirigent van die koor.
8 Misses Croon is die gaskunstenaars en verteenwoordig alumni-koorlede van oor die afgelope 50 jaar.
“Ons vier vanjaar ons 50ste bestaansjaar en ons het ’n reeks baie suksesvolle konserte gehad,” sê Erasmus.
Die kinderkoor het aan die Hull Internasionale Koorkompetisie deelgeneem, wat van 27 April tot 1 Mei plaasgevind het. Daar is hulle as die nommereen-kinderkoor aangewys en het die koor ’n tweede plek in die “Sacred”-afdeling behaal.
Op Sondag 11 Junie het die koor sy eerste konsert op eie bodem ná die oorwinning in Hull as beste kinderkoor in die Hugo Lambrechts-ouditorium aangebied.
In September het die koor sy grootste inname nog ná Covid-19 gehad met die inhuldiging van 27 nuwe lede – die grootste groep ná 2020.
“Ons is nou 80 koorlede, maar aan die einde van die jaar verlaat die gr. 9’s die koor, dan is ons 73 koorlede,” sê Erasmus.
Die koor oefen sedert September vir sy Kersprogram en nuwe repertorium vir 2024.
“Ons sing bekende Kersmusiek, asook ’n paar nuwe werke.” Daar is ook tradisionele liedere soos “Jingle bells”, “Jump out of bed” met ballet en ’n “Reindeer rap”, wat die jonger gehoor sal geniet. Die eerste helfte is meer klassiek met onder meer ’n werk van Franco Prinsloo, “Juig tot eer van die Here”. Nog klassieke werke is “Ave Maria” van F. Biebl, “Festival Sanctus” van J. Leavitt en “O Holy Night”, verklap Erasmus.
Die gehoor gaan ook saam sing!
Die datums vir die konserte is: Saterdag 25 November om 15:00; Sondag 26 November om 16:00 en Sondag 3 Desember om 16:00 in die Endlersaal in Stellenbosch.
Kaartjies kan op Quicket gekoop word vanaf R140 per persoon of kontak Corne per Whatsapp by 082 875 2777.


