Die Tygerberg-kinderkoor is baie opgewonde oor sy eerste vollengte konsert vanjaar in die Endlersaal op Saterdag 8 Junie om 16:00.

Die kinderkoor gaan ’n nuwe werk van Hendrik Hofmeyer uitvoer.

Dit sal ’n wêreldpremière van die werk “Weggaan en terugkoms” wees met Suid-Afrikaanse volkswysies as tema, wat verskillende emosies van weggaan en terugkom uitbeeld.

Nuwe werk

“Nog ’n nuwe werk is ‘Hegan’ van die komponis Javier Busto, ’n komponis van Spaanse Baskiese musiek, asook ’n werk van die bekendste komponis van Baskiese musiek, Eva Ugalde Tximeleta,” sê Karina Erasmus, dirigent van die kinderkoor.

“Ons gaan heelwat nuwe musiek sing. Die program sluit ’n verskeidenheid volksmusiek van oor die wêreld heen in, soos volksmusiek van Serwië, Mexiko, Spanje, Suid-Afrika en inheemse musiek van die Tswana- en Zulu-kulture.

“Dis ons eerste vollengte eie konsert met die nuwe repertorium van 2024.

“Niska Banja, die Serwiese sigeunerdans, bestaan uit ’n duet-begeleiding op die klavier deur Madri Gerber en Elizca Mulder,” voeg Erasmus opgewonde by.

Die program sluit ook musiek in van ander Suid-Afrikaanse komponiste en verwerkers soos Theresa Loock, Olga Leonard en Babette Viljoen, Lize Beekman, Madri Gerber en Franco Prinsloo.

Kompetisie in Spanje

Die koor is besig om voor te berei vir ’n kompetisie later vanjaar in Tolosa in Spanje. Dis die 55ste kompetisie vanjaar en word as ’n Grand Prix-kompetisie beskou.

Dis verpligtend om twee baskiese liedere te sing – een voorgeskrewe werk in ’n Baskiese taal (“Hegan” van Javier Busto) en ’n eiekeuse-lied in Baskies.

Die koor mag slegs uit 40 of minder stemme bestaan.

“Die Baskiese taal is ’n baie ou taal. Uit ’n bevolking van drie miljoen mense praat slegs 900 000 nog die taal,” vertel Erasmus.

You need to be Logged In to leave a comment.