Die Tygervallei-biblioteek het einde Februarie van sy senior bibliotekaresse, Annamarie Mostert (60), afskeid geneem met haar vroeë aftrede ná 24 jaar van woeker tussen die boekrakke.
Haar loopbaan het van 2001 tot 2025 gestrek.
“Dit is soos ’n kind wat jy moet oorhandig en op een of ander manier ervaar ek omtrent iets soortgelyks as leënes-sindroom. Soos ek nou vanoggend wakker word en nêrens het om heen te gaan nie, toe dink ek oukei, ek kan nou net bly lê, maar nee! Laatslaap is net té vervelig! Toe spring ek op uit die bed uit.”
Só vertel Annamarie vanuit haar huis in Eversdal.
Bly vriende
Aangesien sy nie meer agter die toonbank aan diens is nie, het sy amptelik as ’n vriend van die biblioteek aangesluit.
“Ek bly aan as ’n vriend, want dit sal lekker wees om die gesellighede by te woon en ingelig te bly oor programme wat aangebied word. En die beste van alles, ek kan nog alles by die biblioteek nes die breër gemeenskap geniet – alles gratis en verniet. Solank ’n mens ’n biblioteekkaartjie het, is die wêreld by die biblioteek werklik wawyd oop vir jou.”
As deel van die meubelstukke by die biblioteek, meen Annamarie haar loopbaan was van dié waar dit daagliks gevoel het asof dit nie streng gesproke ’n “werk” was nie.
“Dit het nooit gevoel soos werk nie; dit was absoluut ’n plesier om die ‘regte’ boek by die ‘regte’ mense uit bring. Ek dink ook so gereeld aan die jong leerders van vandag wat ook soms min tyd vir genotvolle lees kry. Dit is waar die biblioteek se e-diens, Libby, vir die jongmense so ideaal is. Libby is gratis om te luister, te lees en duisende tydskrifte gratis te geniet. Vergeet van Google, gaan vir Libby,” skerts Annamarie.
Stories by afskeid voorgelees
“Die afskeidspartytjie was vet pret en in my ’n hart is ek mos ’n kinderbibliotekaresse. So met die partytjie het ek oudergewoonte twee stories voorgelees en dit was dit – geen lang uitgerekte toesprake of trane nie; ek het uitgestap deur te doen waarvoor ek lief is.”
Sy is opgewonde vir haar voormalige kollegas se onthalwe wat onlangs die wykraadslid Ronel Viljoen se wyktoekenning losgeslaan het om nuwe voorraad vir die biblioteek aan te skaf.
Nou het sy die wêreld se tyd en wilskrag om haar menige stokperdjies terdeë te geniet.
“Ek het só baie stokperdjies en triljoene boeke wat ek wil lees en nog nie by uitgekom het nie. Ek meen ek kan net só baie boeke per dag lees!”
Chantelle Conradie van die biblioteek het aan TygerBurger vertel dat Annamarie voorwaar ’n leemte in die gange van die biblioteek laat.
“Sy gaan ongelooflik baie gemis word,” sê Conradie.