Die polisie het verlede week ’n 29-jarige man by ’n huis in Linkwoodstraat in Haasendal in hegtenis geneem in verband met ’n rooftog wat ’n dag vantevore by ’n onderneming in Kenilworth plaasgevind het.
’n Tweede verdagte is later in Mfuleni aangekeer.
Volgens AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het vier gewapende mans, wat hulle as klante voorgedoen het, die onderneming op Dinsdag 4 April beroof.
Die rowers het die onderneming se personeel gedreig en gedwing om waardevolle goedere in houers te pak, waarna hulle met die goedere in ’n onbekende rigting gevlug het, sê Swartbooi.
Die ondersoekspan het met die inligting tot hul beskikking gewerk en op Woensdag 5 April is op die huis in Haasendal toegeslaan.
Voertuig opgemerk
Swartbooi sê die beamptes het met hul aankoms by die huis die voertuig opgemerk wat in die rooftog gebruik is.
Die huis is deursoek en die polisie het op die gesteelde goedere beslag gelê.
AO Liezel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê beamptes van die Kuilsrivier-polisie het Woensdagaand nog ’n verdagte, ’n 33-jarige man, in Mfuleni aangekeer, wat met dieselfde rooftog verbind word.
Die twee verdagtes is in die Kuilsrivier-polisieselle aangehou en sal vandeesweek in die hof verskyn.
Beukes sê die ondersoek word deur die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad hanteer.


