’n Man (28) en ’n vrou (20) wat Maandag (20 Mei) ’n Uber-bestuurder in Kuilsrivier gekaap het, sal vandag in die Bluedowns-landdroshof verskyn.
AO Liesel Beukes, woordvoerder van die Kuilsrivier-polisie sê die Uber-bestuurder het die paartjie Maandag omstreeks 19:20 in Bassstraat in Soneike opgelaai.
Volgens die bestuurder is hy gevra om hulle na ’n drankwinkel naby die Zevenwacht-winkelsentrum te neem, maar het hy net ’n paar meter gery toe die man ’n mes uitgehaal en hom gedreig het.
Beukes sê die bestuurder het uit sy kar gespring en na die naaste huis gehardloop om hulp te kry. Die twee verdagtes het met sy rooi Hyundai Grand i10 weggery.


