Twee verdagtes is inhegtenis geneem in verband met die moord op ‘n vrou van die De Zicht-landgoed in Richwood.

Suritha Alting (28) is Saterdag (12 November) in die vroeë oggendure aangeval en vermoor. Sy is herhaaldelik gesteek en is kort daarna oorlede.

‘n Gedenkdiens is Woensdag 16 November vir haar gehou.

AO. Jacques Mostert, woordvoerder van die Bothasig-polisie, sê twee verdagtes is vroegoggend op Vrydag 18 November in Dunoon aangekeer.

Wetstoepassingsbeamptes van die Stad Kaapstad wat besig was met misdaadvoorkomingsoperasies op die N7-snelweg en ‘n verdagte in hegtenis geneem het, het inligting oor die onlangse moord in De Zicht ontvang wat hulle met speurders gedeel het, sê Mostert.

Die inligting het speurders  na Dunoon gelei waar hulle ‘n 18-jarige verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem het. Daar is ook bewyse gevind wat die verdagte moontlik met die moord kan verbind.

Nog ‘n verdagte (42) wat ook met die saak verbind word, is in dieselfde gebied aangekeer.

Albei sal aangekla word en verskyn binnekort in die Goodwood-landdroshof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article