Twee verdagtes van onderskeidelik Delft en Elsiesrivier is vanoggend (Donderdag 11 Januarie) om 05:30 naby die Parow-treinstasie vir gewapende roof en besit van ‘n vuurwapen in hegtenis geneem. 

Die een het ‘n vuurwapen op ‘n pendelaar gerig en hom van sy Nokia3-selfoon ter waarde van R2100 beroof, het kapt. Kevin Williams, woordvoerder van Parow-polisie, gesê.

“Rooftogte vroeg in die oggend is nou die nuwe tendens in Parow en vanoggend is dié twee vasgetrek. Die Parow-polisie het sy patrollies in en om die vrotkolle in ons area vermeerder en die twee is sodoende gearresteer.

“ Die polisie was besig met patrollies by die Parow-treinstasie toe hulle die verdagtes opmerk. Die polisie het hulle genader en het die selfoon in een van die beskuldigdes se besit gevind, asook ‘n speelgoedpistool,” het hy gesê. 

“Die slagoffer wie se foon afgevat is, het die polisievoertuig gestop en die misdaad gerapporteer. Die verdagtes is intussen deur die ánder twee polisielede gearresteer, en was reeds agter in hul voertuig. Die slagoffer het sy selfoon uitgeken nadat dit aan hom gewys is.” 

Die twee verdagtes is in aanhouding en sal môre (Vrydag) in die Bellville-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.