Lede van die Brackenfell-polisie het twee van drie rowers binne 24 uur vasgetrek ná ’n rooftog Sondagaand by ’n plaaslike restaurant.
“Die rowers, onderskeidelik ’n 33-jarige man van Eersterivier en 35-jarige man van Khayelitsha, is Maandagnag in Gordonsbaai in hegtenis geneem.
Die voertuig, sowel as ’n vuurwapen en ’n groot kontantbedrag, is daar gevind,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.
Die Spur-restaurant in die Brackenfell-sakekern het op Sondag 4 Desember vir die derde keer in drie jaar onder rowers deurgeloop.
“Twee gewapendes het om sowat 21:00 die restaurant binnegestap terwyl ’n derde verdagte by die deur gewag het. Hulle het gevra vir ’n tafel vir twee,” sê kapt. Erica Crous, polisiewoordvoerder.
“’n Paar minute later het hulle die bestuurder, ’n 27-jarige vrou, geroep en ’n vuurwapen op haar gerig.
“Hulle het ook aangedring op die kontant in die kasregister en ook die sleutel van die kluis.
“Volgens inligting wat ons ontvang het, het die bestuurder effens gehuiwer, waarop die een rower haar toe met sy vuurwapen se kolf oor die kop geslaan het,” het Crous gesê.
Die rowers is daarna vort met ’n onbekende bedrag kontant, ’n sespak-bier en ’n bottel J&B-whisky.
Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie. Die Brackenfell-polisie ondersoek tans ’n saak van besigheidsroof.