’n Gemeenskap wat sy kinders begrawe, kan nie groei nie.
Dit is die boodskap uit die gemeenskap van Delft nadat twee tieners verlede week geskiet is.
In die eerste voorval is die 15-jarige Aqeelah Schroeder van The Hague verlede week doodgeskiet toe sy onderweg was na ’n winkel. Dit lyk of sy in die kruisvuur van ’n strydende bende beland het.
Verlede Vrydag is ’n 13-jarige geskiet en is sy na ’n plaaslike hospitaal vervoer. Haar huidige toestand is onbekend.
Niemand is nog in verband met die tweede voorval in hegtenis geneem nie.
Past. Charles George, ’n plaaslike gemeenskapsleier, sê die gemeenskap van Delft is onder beleg.
“Die jeug is ons toekoms, maar hoe kan hulle die toekoms wees as hulle uitgemoor word? In watter normale gemeenskap sterf so baie kinders so jonk?” wil George weet.
“As ons dieselfde goed oor en oor doen, sal ons elke keer dieselfde uitslag kry.
“Die polisie in die algemeen en spesifiek in Delft moet nuwe misdaadbekampingstegnieke aanleer of toepas. Misdaad is buite beheer,” sê hy.
Vroue staan op
Farieda Ryklief, ’n gemeenskapsaktivis van Delft, wat op vrouesake fokus, lê die blaam vir misdaad voor die polisie se deur.
“Ons sien mense word in hegtenis geneem, maar is gou weer op straat. Hoe kan die gemeenskap wil uitpraat as hulle weet die moordenaar is dae later weer buite?
“Ek het onlangs met iemand by die hof gepraat en daardie mens sê hulle kan net doen wat hulle kan.
“Volgens die persoon kom dossiere van die Delft-polisiekantoor baiekeer onvoldoende by die hof aan en beskuldigdes kan dan nie suksesvol vervolg word nie.
“Dit kan nie te veel gevra wees dat die polisie net hul werk doen nie,” sê Ryklief.
Ryklief sê sy en haar organisasie Win (Women Impacting a Nation) se groot probleem is die hoeveelheid vuurwapens wat in omloop is.
“Jongmanne loop deesdae oop en bloot met vuurwapens, want hulle weet niks gaan met hulle gebeur nie. Ons kan nie eens meer sê watter tyd van die dag geskiet gaan word nie, want daar word dag en nag geskiet,” sê Ryklief.
Win het verlede week ’n optog na die plaaslike polisiekantoor gelei.
Kapt. John Bartlett, polisiewoordvoerder, sê ’n 22-jarige verdagte van Delft is in verband met Aqeelah se moord in hegtenis geneem.


