Twee mans, van wie een met krukke geloop het, is verlede week in afsonderlike voorvalle van poging tot roof naby die Ferdinand Postma-park, sowel as Bill Bezuidenhout-rylaan deur ’n groep van vier onbekende mans met messe gesteek.
Buurtwagte het verlede week die onlangse tendens op verskeie WhatsApp-gemeenskapsgroepe, onder meer dié van Oakdale- en Stellenridge-buurtwagte, gedeel en inwoners gewaarsku om paraat te wees.
Modus operandi
Dit is deur Yollanda Fritz, die ondervoorsitter van Oakdale-buurtwag, aan TygerBurger bevestig.
“Die eerste messteekvoorval het verlede Maandag (18 November) in Bill Bezuidenhout-rylaan plaasgevind. Die slagoffer, ’n buitelandse tuinwerker in die omgewing, is in die hand en die gesig gesteek toe hy homself wou verdedig.”
Die verdagtes het van die toneel weggehardloop.
Slegs sowat 36 uur daarna, op Dinsdag 19 November, is nóg ’n messteekvoorval in die omgewing van die Postmapark gerapporteer.
“Dié keer is die slagoffer, nóg ’n buitelandse man wat op krukke gestap het, ook deur vier mans met dieselfde beskrywing geteiken. Die slagoffer het geen kontant in sy besit gehad nie, slegs die krukke waarmee hy geloop het. Hy is verskeie kere in sy bolyf met ’n mes gesteek.”
Albei mans het ernstige beserings opgedoen en is in hospitale behandel.
Volgens die Stellenridge-buurtwag se verslag het die gevalle Maandag omstreeks 08:30 en Dinsdag om 15:30 plaasgevind.
Lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisie, sê nie een van die voorvalle is by die polisie aangemeld nie. Sy herinner slagoffers dit is belangrik om alle gevalle van misdaad by die polisie aan te meld.
“Ons het in dié stadium geen besonderhede oor die voorvalle nie omdat die polisie nie na die tonele ontbied is nie. Maar ons nooi die slagoffers of mense wat van die voorvalle weet, om klagtes by die polisiekantoor aan te meld,” sê Nimb.
Wees waaksaam
Die buurtwagte raai voetgangers aan wat gereeld in die omgewing van die Bill Bezuidenhout-brug en Oakdale beweeg om uiters waaksaam te wees:
- Stap in groepe, veral na-ure;
- Bly bewus van jou omgewing en vermy aandagafleibaarheid, soos om op ’n selfoon te wees terwyl jy stap;
- Indien enigiets agterdog of buitengewoon voorkom, meld dit spoedig by veiligheidsnetwerke aan.
Fritz het verseker die buurtwagte en veiligheidsvennote sal volgens ’n streng rooster meer patrollies soggens en smiddae in die gebiede uitvoer.


