Twee geklee in sekuriteitsdrag beroof geldwagte

Die Kuilsrivier-polisie is op die spoor van twee gewapende rowers wat vanoggend (19 Desember) drie geldwagte buite ’n bank in Van Riebeeckweg, Kuilsrivier beroof het.


Die Kuilsrivier-polisie is op die spoor van twee gewapende rowers wat vanoggend (19 Desember) drie geldwagte buite ’n bank in Van Riebeeckweg, Kuilsrivier beroof het.

Die drie geldwagte was buitekant besig om geld by die Captitec-bank af te laai, wat in die outomatiese-tellermasjien gebruik sou word, toe hulle aangeval word.

Die aanvallers was glo geklee in presies dieselfde uniforms as die G4S-maatskappy waarvoor die drie geldwagte werk, sê kapt. Isaac van Niekerk, polisiewoordvoerder. Dis om dié rede dat die geldwagte aanvanklik niks vermoed het nie, meen hy.

Die polisie kan egter in die stadium nog nie bevestig of die aanvallers werknemers van die maatskappy is nie.

“Nadat hulle stilgehou het, was twee wagte aan die agterkant van die geldwa besig en die bestuurder het voor in die wa bly sit.

“Die agterste twee is deur die aanvallers met ’n vuurwapen gedreig en terug in die wa gedwing.

“Hulle is verder gedreig en daar is geëis dat hulle die kluis oopmaak. Die verdagtes is met ongeveer 11 sakke kontant daar weg,” sê Van Niekerk.

Dis egter onbekend hoeveel kontant presies gebuit is.

“Die verdagtes het gevlug in ’n silwerkleurige Volkswagen Golf GTI.

“Ons het ongelukkig geen registrasienommer nie.”

Die aanvallers, twee mans van wie een glo ’n vroue-pruik gedra het, het ook met twee van die wagte se wapens gevlug.

Nuus van die aanval het soos ’n veldbrand op die sosiale media versprei. Inwoners is kort ná die voorval op die Kuils River Community Page aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik aangesien die verkeer opeengehoop het en motorste herlei is. Inwoners is ook gewaarsku om liefs weg te bly uit die gebied.

Die voorval het kort ná 10:20 plaasgevind.

Niemand is tydens die aanval beseer nie.

’n Saak van gewapende roof word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.