Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Verskaf

Twee verdagtes moet weer einde April in die hof verskyn nadat ’n jong paartjie se motor onlangs in Rondebosch gekaap, hulle ontvoer en later in Monte Vista vrygelaat is.

Die verdagtes het daarna in hul motor weggejaag.

Die nagmerrie het begin toe die manlike slagoffer op Vrydag 22 Maart omstreeks 15:20 met sy wit Chevy Spark op die hoek van Harrow en Ednamweg in Rondebosch gestop het waar sy meisie vir hom gewag het.

“Skielik is hulle deur drie verdagtes aangeval,” het AO Lyndon Sisam, woordvoerder van die Rondebosch-polisie, aan Heleen Boshoff, verslaggewer, vertel.

“Die verdagtes (twee mans en ’n vrou) het die meisie in haar kêrel se kar forseer, die man na die agterste sitplek gestoot en met hulle weggery.”

Volgens Sisam het hulle met die paartjie rondgery totdat die petrol opgeraak het, waarna hulle petrolgeld geëis het. “Die slagoffers het egter geen geld in hul rekeninge gehad nie. Die verdagtes het die slagoffers se selfone verkoop om petrol te koop.”

Een van die drie verdagtes het iewers uit die kar geklim, waarna die ontvoerders na Monte Vista is, waar hulle omstreeks 21:00 afgelaai is.

In hegtenis

Volgens die private sekerheidsmaatskappy District Group het hul sentrale ’n noodoproep ontvang van ’n inwoner in Sparrman-rylaan in Monte Vista, waarin hulle meegedeel is dat ’n jong paartjie aan sy voordeur geklop het, en dat hulle aan die inwoner verduidelik het dat hulle in die suidelike voorstede beroof is.

Twee van hul beamptes is uit na die toneel. “Die polisie is ontbied en hulle het die toneel oorgeneem met hul aankoms,” lui die verslag.

Die motor is omstreeks 23:00 deur die metropolisie gesien, waar dit na Dieprivier op pad was, het Sisam gesê. Die kar is afgetrek en twee verdagtes (’n man en ’n vrou) is in hegtenis geneem. In hul besit was ’n replika gasvuurwapen, ’n mes, gesteelde klere en geld.

Die manlike verdagte was in daardie stadium op korrektiewe toesig uit die tronk gelaat en het ’n lang kriminele rekord.

Kapt. Wayne Theunis, Goodwood-polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom was die paartjie by die polisiekantoor nadat die polisie ontbied is. Die verdagtes het verlede Maandag in die hof verskyn, waarna die saak na Dinsdag 23 April uitgestel is.

You need to be Logged In to leave a comment.