Twee jongmense is onlangs glo gekaap, ontvoer en in Monte Vista uitgelaat, voordat die verdagtes in hul motor weggejaag het.

Die voorval het op Vrydag 22 Maart plaasgevind en is deur ’n lid van die Goodwood-polisie bevestig. Volgens die private sekerheidsmaatskappy District Group het hul sentrale ’n noodoproep ontvang van ’n inwoner in Sparrman-rylaan, Monte Vista, wat hulle meegedeel het dat ’n jong paartjie aan sy voordeur geklop het, en dat hulle aan die inwoner verduidelik het dat hulle in die Suidelike Voorstede beroof is.

Hulle is glo na Monte Vista vervoer waar hulle afgelaai is. Volgens die maatskappy se verslag het die verdagtes met die paartjie se motor weggejaag.

Twee van hul beamptes is uit na die toneel. “Die polisie is ontbied, en hulle het die toneel oorgeneem met hul aankoms,” lui die verslag.

Kapt. Wayne Theunis, Goodwood-polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens hom was die paartjie by die polisiekantoor nadat die polisie ontbied is.

Hy sê hy vermoed dat die twee jongmense ’n saak geopen het, maar kon nie bevestig of dit met die ontvoering, kaping of roof verband hou nie.

Volgens hom het die voorval omstreeks 11:30 plaasgevind.

Theunis is ook nie seker of enige verklarings afgelê is nie. Indien dit gedoen is, sal die verklaring na die naaste polisiekantoor gestuur word waar die misdaad oorspronklik gebeur het.

Theunis is onseker oor die ouderdom van die twee mense.

You need to be Logged In to leave a comment.