’n Man wat al maande sukkel om die sementwalle van die waterkanaal in Boston herstel te kry, gaan ’n onbepaalde tydperk moet wag totdat die Stad Kaapstad dit herstel.
Gerrit Horn, ’n plaaslike inwoner, het op 7 Julie 2022 vir die eerste keer vir die Stad Kaapstad gebel om te sê die walle langs Broadwaystraat het ingeval en dat dit die normale vloei van die kanaal belemmer.
“Tot vandag toe nog het die Stad Kaapstad dit nie nodig geag om hierdie belangrike herstelwerk te laat doen nie. Hierdie gebrek aan dienslewering is vir my onaanvaarbaar.”
Siseko Mbandezi, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, het by navraag gesê die Stad het Horn gekontak om te sê herstelwerk sou einde 2022 plaasvind.
Toe TygerBurger egter daarop wys dat dit nie toe begin is nie, het hy gesê dit was die gebruiklike bouervakansie en dit was nie moontlik om toe daaraan te werk nie.
Met TygerBurger se besoek verlede week het die herstelwerk egter steeds nie begin nie. Die kanaal is wel skoongemaak.
Die vloeiende water by die stuk waar die sementvalle ingeval het, het al veroorsaak dat die grondwalle hol raak.
Mbandezi sê die koste en omvang van die projek is bereken en sê herstelwerk sal “binne die volgende maand” geskied.
Hy beklemtoon egter dat net gedeeltes van die kanaal reggemaak sal word omdat baie dele geen herstelwerk benodig nie.
Die Stad gaan ook in April vanjaar die kanaal skoonmaak en sorg dat niks die vloei beperk nie, beloof hy.


