Die liefdevolle honde en kat van die organisasie Pets as Therapy het onlangs ’n dag van vreugde en vertroosting aan die leerders van die Paarlskool in Brackenfell gebring.
Hierdie besonderse dag het die harte van die leerders en die diere verbind in ’n ervaring wat nie gou vergeet sal word nie, sê Hein van der Merwe, adjunkhoof van die skool.
Die leerders het dadelik opgewonde geraak toe hulle die vriendelike diere ontmoet het. Die vierpotige terapeute het hul werk met liefde en geduld gedoen en sonder aarseling toegelaat dat hulle gestreel en gedruk word, wat ’n onmiddellike kalmerende effek op die kinders gehad het.
Van der Merwe sê die terapeutiese waarde van hierdie ontmoeting was duidelik sigbaar. “Onderwysers het opgemerk dat leerders wat gewoonlik teruggetrokke of angstig is, uit hul dop gekom het en met groot glimlagte aan die aktiwiteite deelgeneem het.”
Die personeel van Paarlskool het hul dankbaarheid uitgespreek vir die besoek van Pets as Therapy.
“Die positiewe impak wat die diere op die leerders gehad het, was onmisbaar,” sê Van der Merwe.





