Trekkerliefhebbers van die WP-Veteraantrekker- en enjinklub het onlangs weer vir die eerste keer sedert 2019 die tog deur die Tankwa-Karoo op hul ou trekkertjies aangedurf – Calvinia se kant toe vir die gewilde Vleisfees.
Dit is die 23ste jaar dat die klub die unieke reis afgelê het, met een van die trekkers, ’n 1948 John Deere, wat al 20 keer die pad gery het.
Altesame 25 klublede van reg oor die provinsie het met 11 trekkers – uit die jare veertig en vyftig – in die laaste week van Augustus die pad vanaf die klubhuis in Kraaifontein aangedurf.
“Die trekkers word op vragmotors gelaai en vervoer tot by Oppiberg in die Koue Bokkeveld, waar ons aflaai vir die vyf dae lange rit op die Tankwa-pad,” verduidelik Hannes Rheeder, die klubvoorsitter.
Van daar af het lede op die trekkers 300 km afgelê – met ondersteuningsvoertuie in tou – deur die Koue Bokkeveld, oor die steil Katbakkies-bergpas en deur die Skuttery en Hartneksklowe.
“Dis ’n avontuur van ’n ander aard, ’n vlug na oop vlaktes, helder sterrenagte en kraakvars lug,” sê Rheeder.
By Calvinia word die trekkers ingewag vir ’n optog deur die dorp en die dag daarna word daar by die Vleisfees uitgestal.
“Dis altyd ’n groot lekkerte vir almal om by mekaar te kom. Die doodse stilte in die verlate landskap is soos ’n vakansie vir jou siel. Teen 19 km/h het jy al die tyd in die wêreld om oor jou sondes te dink,” skerts Rheeder.





