Die versameling unieke veteraantrekkers wat aan verskeie lede van die WP-veteraan-trekker- en enjinklub behoort, sal eersdaags deel vorm van ’n dokumentêre reeks oor motorvoertuigversamelaars van oor die land heen.
Dié aanlyn reeks van 24 episodes met die titel Accelerate sal volgende jaar in Kanada uitgesaai word.
’n Plaaslike filmproduksie-maatskappy Fixerfilm het onlangs die klubhuis in Kraaifontein besoek om die versameling van nader te bekyk.
“Die reeks draai om mense en hul passie vir voertuie, in dié geval trekkers. Ons kyk nie net na die versamelings nie, maar ook na die versamelaars en hul liefde vir die voertuie,” sê Neil Webster van Fixerfilm.
Dis veral die erfenis wat dié klub eendag sal nalaat wat die filmmaker beïndruk het.
“Die geskiedenis van die verskillende ou trekkers, waar dit vandaan kom en die belangrike rol wat dit in toeka se jare in voedselvervaardiging gespeel het, sal deur die klub vir toekomstige geslagte voortleef,” sê Webster.
“Was dit nie vir versamelaars en die bedrywighede van dié klub nie, sou baie van die ou trekkers waarskynlik verroes en verwaarloos op skrootwerwe gelê het,” sê hy.
Die klub het tans 70 lede landswyd wat tussen hulle sowat 250 trekkers besit.
In die Kraaifontein-klubhuis pronk onder meer gerestoureerde John Deere-modelle uit die 1940’s tot 1960’s, ou LS Chalmers-modelle en die ikoniese Vaaljapies uit die 1950’s.
“Al die trekkers ry nog en word gereeld deur lede gebruik om op plaaspaaie te ry,” sê Hannes Rheeder, die voorsitter van die klub. Lede durf jaarliks die langpad Karoo-langs met die trekkers na die Calvinia-vleisfees aan.
Die klub neem ook deel aan die jaarlikse Killarney- motorskou en trek die sierwaens vir die Cape Town Carnival. “ ’n Trekker is gemaak om stadig te ry en is dus ideaal vir die stadige karnavalpas.


