Tom Liebenberg (43) het in die laaste minuut die wilskrag bymekaar geskraap om altesaam 613 optrek-vollyfspronge uit te voer in ’n poging om die wêreldrekord te verbeter.


Die meeste mense sweet al by die blote gedagte om tientalle optrekke te doen. Maar vir bewusmaking het die 43-jarige Tom Liebenberg altesaam 613 optrek-en-vollyfspronge binne 60 minute voltooi.

Liebenberg het dié anderwêreldse wilskrag beoefen in ’n poging om die Guinness-wêreldrekord vir optrek-vollyfspronge (burpee pull-ups) te oortref.

Die byeenkoms is op Saterdag 15 Februarie in samewerking met Radio Tygerberg by die Willowbridge-sentrum in Bellville te midde van die ondersteuning van toeskouers gehou.

Guinness-wêreldrekord

“Die huidige Guinness-wêreldrekordhouer is Tommy Vu, wat 611 burpee pull-ups in minder as 60 minute gedoen het. Maar my rekord sal vir eers slegs ’n poging bly, tot ek die amptelike erkenning van die Guinness World Records ontvang.”

Só gesels Liebenberg vanuit sy persoonlike afrigtingstudio in Ridgeworth.

Hy verduidelik dat daar twee maniere is om so ’n rekord amptelik deur Guinness te bevestig.

“Een manier is om die teenwoordigheid van Guinness se amptelike beoordelaars te versoek en hulle op jou eie onkoste uit te vlieg om die byeenkoms te beoordeel. Ek het toe besluit om dit onafhanklik te doen, maar die proses verg uiteraard baie ondersteunende bewysstukke.”

Die proses het behels dat Liebenberg die poging met twee unieke kameraskote moes opneem in die teenwoordigheid van vier ooggetuies, wat kenners op die betrokke gebied is.

“Ongelukkig het een van die kameras net mooi die dag nie die poging van voor afgeneem nie. Dít nadat ek die program telkemale getoets het voor die groot dag. Maar nou ja, ek byt vas om te kyk wat die resultaat sal wees. Dit hoort tussen ses en agt weke te neem voor ek bevestiging ontvang,” sê Liebenberg.

Ses weke vir 60 minute

Ter voorbereiding vir die poging het Liebenberg ses weke lank sy liggaam geoefen en geestelik voorberei.

“Ek het twee dae per week burpee pull-ups gedoen en het begin deur so vyf minute op ’n slag die burpee pull-ups te oefen. Dit het ek stelselmatig vermeerder toe ek besef ek kon gemaklik 200 repetisies binne 20 minute doen. Toe dink ek: ‘Ja wat, ek sal dié kan doen!’”

Hy het ook langafstand-drafsessies gedoen om sy algehele fiksheid op te skerp.

“Maar op die dag, met die onvoorsiende terugslae soos die kamera, was daar oomblikke van swaar trek. Veral nadat die blase op my palms my terugslae begin gee het, wat ek gedurende my pouses moes toepleister om te kon aanhou.”

Grootste euwel

Dit het hy alles ter wille van bewusmaking van A21, ’n teen-mensehandelorganisasie, gedoen.

A21 is ‘n internasionale organisasie wat mensehandel beveg deur bewusmaking, voorkoming, redding en herstel van slagoffers. Hulle werk saam met wetstoepassing, bied ondersteuning aan oorlewendes en onderneem veldtogte om mensehandel te bekamp.

A21 het kantore wêreldwyd, insluitend Suid-Afrika, en fokus op regsaksies teen mensehandelaars en die rehabilitasie van slagoffers om hulle te help om weer ’n vrye lewe te lei.

Volgens A21 se webtuiste is daar sowat 49,6 miljoen mense wat aangehou word.

“In my opinie is mensehandel die grootste euwel in die wrede wêreld vandag. Mense besef nie aldag hoe ernstig dit is nie, hoe groot die mensehandelnetwerke is, en hoe plaaslik mensehandel werklik is nie,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.