Die Goliat van drankies bestaan uit 250 l vanielje-roomys, 27 l Qbana Coffee Liquor en twee liter Amazing Chocolate-stroop.


Annie’s Pub & Grill in Stikland spog met nóg ’n reuseskepping wat op Saterdag 2 November ‘n skare mense byeengebring het om ’n glasie op die grootste Don Pedro van 279  l te klink.

“Ons grootste uitdaging was om ’n groot genoeg glas te kry om dié Don Pedro te skink,” vertel Joe Redelinghuys, die man van Annie wat die kuierplek bedryf.

TygerBurger se pogings om ’n ander rekord vir die grootste Don Pedro te vind was onsuksesvol.

“Die Don Pedro is uniek aan Suid-Afrika en daar is nog nooit gepoog om die grootste een te maak nie,” meen Joe.

Annies Pub & Grill in Stikland spog met nóg ’n reu

Hier is Joe saam met die kuierplek-kok, Michael Steyn, besig om die grote glas by Annies Pub & Grill in Stikland op te top.

Skepping aan skenkers te danke

Die skepping is te danke aan skenkings van ondersteuners van die kuierplek, sê hy. “Goeie vriende en kliënte van ons, Jan Diener van Acryl Form, Stikland, het spesiaal die glas ter waarde van R16 000 vir die geleentheid vervaardig – gratis en verniet. Die ander grootste borg was Eddie Duncan van Eilandzicht wat 36 bottels Qbana Coffee Liqueur geskenk het en Dairy Exchange het ons gehelp met ’n goeie prys vir vanielje-roomys.”

Die goliat van drankies bestaan uit 250l vanielje-roomys, 27l Qbana Coffee Liqueur en twee liter Amazing Chocolate-stroop.

“Sowat 250 gaste kon vier of vyf glasies Don Pedro geniet. Hierdie is net weer ’n bewys van Annie’s se pogings om besoekers aan ons kuierplek met goeie gasvryheid te bedien.”

Die geleentheid op die perseel van die kuierplek in Willow-weg het ook gedien as ’n soetgoed-skenkingsveldtog waar gaste versoek is om pakkies soetgoed aan ’n motorfietsklub, Road Rage, te skenk. “Ons wil graag ook spesiale dank gee aan Road Rage en sy lede wat baie gehelp het om die groot dag ’n sukses te maak.”

Die Don Pedro is maar die nuutste uit ’n hele reeks bielies wat Annie’s Pub & Grill oor die afgelope paar jaar baasgeraak het.

Grootste gatsby en hamburgers

In Julie vanjaar het hulle nuusopskrifte gehaal vir die grootste Gatsby wat die skaal op ’n yslike 65,3 kg getrek het.

KYK: Gatsby laat skaal kreun op 65,3 kg

Hierdie bielie-brood wat die skaal op ’n yslike 65,3 kg getrek het, is deur die kroegeienaars Annie Redelinghuys, haar man, Joe, en kok Michael Steyn opgedis.

Dié gatsby het ’n elle lange drie meter in lengte gestrek wat alles van die beste bestanddele bevat het, soos blaarslaai, tamaties, polonie, beesvleis-frikkadelle, masala-steak, hoenderfilette, calamari-repies, verskeie lae slaptjips, souse, en gebakte eiers.Die Redelinghuys-egpaar glo dit is ’n Suid-Afrikaanse (of selfs wêreld-) rekord vir die grootste gatsby wat ooit geskep is, maar die poging is nie onafhanklik beoordeel of gemeet aan ’n amptelike standaard nie.

“In 2019 het ons, waarna mense as die grootste burger in die land verwys, geskep, wat ’n totale gewig van 79,5 kg gelewer het. Hy het ’n 40 kg-frikkadel gepak met ’n deursnee van 800 mm en ’n tuisgemaakte broodjie wat ons self gebak het.”

’n Paar jaar later het Annie’s sy eie rekord oortref deur ’n burger dubbel so groot te maak, wat bestaan het uit twee 40 kg-frikkadelle. Die bielieburger het die skaal op 123 kg laat kreun.

You need to be Logged In to leave a comment.