Timmie Cookson sit op sy gunstelingplek vanwaar hy na sy programme luister.

Brenden Ruiter

Wanneer die temalied van een van die gewildste sepies in die land begin speel, beteken dit net een ding – daar moet algehele stilte in die Cookson-woning in Silversands, Kuilsrivier wees.

Dit is die tyd wanneer Timothy (Timmie) Cookson na sy gunsteling-televisieprogram wil luister. Hy moet luister, sien, want hy is blind.

Dit keer egter nie vir Timmie om die program te geniet nie. “Ek was nie altyd blind nie, so ek kan baie van die karakters onthou van toe ek nog kon sien. Charmaine, Felicity, Oubaas en Hilda is nog in my geheue, maar dit is die nuwe karakters wat ek maar in my kop uitwerk hoe hulle lyk. Al het ek ook jare terug ’n akteur se stem gehoor en hy of sy speel nou in ’n nuwe program, sal ek dit onthou. Denise Newman se stem sal ek byvoorbeeld nooit vergeet nie.”

Timmie is met swak sig gebore en moes sy hele skoolloopbaan, wat hy aan die Athloneskool vir blindes spandeer het, dik brille dra. Weens gloukoom het hy geleidelik al swakker gesien en het uiteindelik heeltemal blind geword. “Hier rondom 2008, 2009 het ek besef die bril gaan ook nie meer help nie en ek het heeltemal blind geword. Ek het altyd baie naby aan die televisie gesit en nog altyd grootdruk gelees. Wanneer ek na die televisie luister hou ek daarvan dat alles om my stil is, want ek is nogal baie afhanklik van die klank van die televisie. So weet ek wanneer sekere musiek op die agtergrond is, daar besig is om onheil te broei of iets.

“Met die woorde en die musiek kan ek nogal redelik maklik die storielyn volg. Wanneer daar nou regtig iemand is wat ek graag wil weet hoe die persoon lyk, sal ek iemand vra om te verduidelik. Sommige programme is moeilik vir my om te volg, want al ons elf nasionale tale word gepraat en ek kan ongelukkig net Afrikaans en Engels verstaan.

“Dis hoekom ek so baie van 7de Laan hou, want hoewel van die karakters soms ander tale praat, kan ek steeds die storie volg. So elke nou en dan is daar ’n toneel wat ek dink ’n bietjie sig sal nou nie sleg gewees het nie, maar dan gaan ek net weer aan,” sê Timmie.

Oubaas (Pierre van Pletzen) is sy gunsteling-karakter. “Ek lag lekker vir sy sêgoed en hoe hy gewoonlik die feite verdraai en verkeerd kry,” lag Timmie.

Buiten 7de Laan hou hy ook van dokumentêre programme. “Dokumentêre programme word in vertelstyl aangebied, so ek kan redelik maklik volg wat aangaan.

Carte Blanche en Special Assigment was nog al die jare van my voorste programme. Waar dit by flieks kom, hou ek van flieks wat op ware gebeure gegrond is.”

Timmie is wyd belese en ontvang weekliks oudioboeke om sy leeslus te stil.

“Een van my drome is nog om my eie boek te skryf. Van my familie en vriende vra elke keer hoekom ek nog nie ’n boek geskryf het nie. Ag, ek moet seker net begin,” sê hy.

Teen die einde van die onderhoud skuif Timmie na sy sitplek neffens die televisie-stel, want daar is nog ’n dokumentêr oor ’n onopgeloste moord waarna hy moet luister.

You need to be Logged In to leave a comment.